OUDTSHOORN NUUS - TimberCity Oudtshoorn is die hoofborg van vanjaar se SA toutrekkampioenskappe. Die aankondiging is Dinsdagaand tydens 'n geleentheid by die Oudtshoorn Vaardigheidskool se Karools Lapa gemaak. Dié kampioenskappe sal op 8 en 9 Maart by die Oudtshoorn Vaardigheidskool aangebied word.
Meer as 3 000 besoekers word by die kampioenskappe verwag met sowat 1 600 toutrekkers wat gaan deelneem.
Colan Sylvester, burgemeester van Oudtshoorn, het tydens sy spreekbeurt gesê dat Oudtshoorn in die laaste twee jare baie geseënd is met veelvuldige toernooie wat in die dorp plaasvind.
Volgens Sylvester bied hierdie kaliber toernooie Oudtshoorn 'n gulde geleentheid om homself te bemark, sowel as die welkome ekonomiese inspuiting wat daarmee gepaard gaan.
"Dit is dus 'n riem onder die hart om te verneem dat al die naburige skole se koshuise reeds vol bespreek is vir hierdie toernooi"
Gavin Block, prinsipaal van Oudtshoorn Vaardigheidskool, het sy dankbaarheid teenoor al die borge uitgespreek.
"Sonder hulle helpende hand sou hierdie groot SA troutrekbyeenkoms beslis nie kon realiseer nie. Gesamentlik beloop al die borge se bydraes sowat R200 000. Die borge wat teenwoordig was by dié geleentheid om hul tjeks te oorhandig was Klein-Karoo Internasionaal, PG Glass, Volmoed Quarries en Van der Bergh Vervoer, Overberg Wealth and Risk Management en die hoofborg, TimberCity.
Block het ook die plaaslike munisipaliteit geprys vir hul vergunning om water aan die Vaardigheidskool toe te staan om die velde nat te lei in die huidige droogte tydperk. "Die grasperke is tans lowergroen en ons kan nie wag vir 8 Maart nie," het hy gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'