OUDTSHOORN NUUS - “Die lewe is nie ‘n stagnante of volmaakte struktuur nie maar ‘n uitdagende en verrassende groeiproses. Ek is vandag tien dekades oud en ‘n honderd jaar jonk”.
So het die merkwaardige Adam Wicomb van Sesdelaan, Colridge View, Oudtshoorn, oudste lid van die Wicomb-familie, Sondag op sy 100ste verjaardag in sy huis gesê.
Die familie sou die groot geleentheid met ‘n spogdinee in ’n plaaslike hotel vier maar dit vanweë die Covid 19 pandemie gekanselleer.
Meester Ampie, soos hy alom bekend is, is op 20 Desember 1920 op Matjiesrivier gebore.
Hy vertel dat sy pa in 1930, toe hy maar tien jaar oud was, oorlede is, en sy ma hom, sy twee broers en twee susters, onder moeilike omstandighede alleen moes grootmaak.
“Ek het by my ma geleer. Deur al die swaarkry was sy ‘n trotse mens en dit het sy aan ons oorgedra. Ons kinderjare was in die grootste armoede na my pa se dood.”
Meester Ampie sê hy geniet, ten spyte van sy hoë ouderdom, nog besonder goeie gesondheid.
“Ek het sedert 2018 probleme met my gehoor en sig maar ek is die Here dankbaar om nog elke oggend te kan opstaan, my aan te trek en alles vir my self te doen.” Meester Ampie het hom in 1943 as onderwyser aan die destydse Athlone Onderwys Instituut in die Paarl bekwaam en die volgende jaar op Ladismith begin skoolhou.waar hy sy vrou, Maggy ontmoet het.
Na twee jaar is hy na Kammanassie en daarna prinsipaal van Snyberg Primêre Skool vir sewe jaar.
Hy is toe aangestel as skoolhoof van die Vlakteplaas UCC Primêre Skool waar hy vir 24 jaar aan die stuur was.
Meester Ampie het vir baie jare op kerkrade van die Congregational Kerk gedien. Eers op Dysselsdorp, daarna Oudtshoorn en sedert 1985 was hy diaken van die Weyers Memorial United Congregational Kerk totdat hy in 1992 tot lewenslange erediaken vereer is.
Hy was een van die stigterlede van dié kerk wat op Kersfees sy 35ste bestaansjaar vier.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'