Dit was verlede week in Toekomsrus die boodskap van verskeie spre-kers aan die gebied se kinders tydens 'n Terug Skool Toe Bewusmaking en Voorkomingsveldtog van die Sektor 2 Gemeenskapspolisiëringsforum wat deur een van die komiteelede, mnr. Japie Koeries, geïnisieer is.
Ds. André Boezak van die Verenigende Gereformeerde Kerk het die kinders gevra om soos Jesus kerk en skool toe te gaan.
"Doen wat Jesus gedoen het. Kerk en skool loop hand aan hand," het Boezak gesê.
"Baie mense het al uit die moeilikste omstandighede bo uitgekom. Een van hulle is vandag oud-President Mandela se geneesheer. Jou verstand is jou grootste wapen. Gebruik dit want jou toekoms is in jou eie hande."
Die kring spanbestuurder (Kring 6) van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement in die Klein-Karoo, mnr. Chris Swanepoel, het gesê die groot uitdaging vir die toekoms is dat ouers sal moet sê wat hulle van skole verlang.
"Dit is ook ouers se verantwoordelikheid om toe te sien dat hul kinders elke dag in die skool is en hul tuiswerk doen."
Volgens Swanepoel is een van die groot kopsere vandag die groot aantal kinders wat net tot pouse by die skool bly.
Hy sê ook dit is kommerwekkend hoeveel kinders skool verlaat voordat hulle matriek bereik.
Pastoor JP Plaatjies van Korrektiewe Dienste het die kinders gevra om altyd na die hoogste ster te reik en die leuse van die Hoërskool Môre-ster, Per Adua Ad Astra, na te streef.
Hy het sy kommer uitgespreek oor die groot aantal kinders wat hy veral saans op straat sien.. "Waar is hul ouers?" wou hy weet.
Me. Vanessa Daniels, 'n maatskaplike werker by die Departement Maatskaplike Dienste het die kinders oor die gevare van dwelms ingelig en hulle gemaan om daarvan weg te bly.
Die speaker van die Oudtshoorn-munisipaliteit, John Stoffels, het gesê dit is ouers se plig om hul kinders te ondersteun "al ken julle nie die kurrikulum nie".
Hy het die versekering gegee dat die munisipaliteit so ver as moontlik hulp sal verleen.
Die Sektor 2 bevelvoerder, kapt. PJ Mkhendane, het die kinders gewaarsku om weg te bly van misdaad en die hoop uitgespreek dat al die kinders van Toekomsrus vanjaar skool sal bywoon.
