OUDTSHOORN NUUS - Die bekende of liewer die beroemde plaaslike polisieman van Oudtshoorn, Brian Daniels (52), het verlede Woensdag na die Rooikruis-kinderhospitaal gereis om die vrugte van sy stappery met sy eie oë te aanskou.
Daniels het verlede jaar in net 12 dae vanaf Oudtshoorn na Kaapstad gestap en altesaam R50 000 vir die Rooikruis-kinderhospitaal ingesamel om te help bou aan 'n terapeutiese speelarea vir die hospitaal se kleintjies.
Plaaslike inwoners en vreemdelinge van heinde en ver het voor sy staptog kaartjies gekoop waarna hy 'n heldeontvangs van vriende, familie en kollegas met sy terugkeer van Kaapstad ontvang het.
Daniels se naam is ook saam met talle ander donateurs op 'n erebord by die terapeutiese speelarea aangebring. Die totale koste van die projek het R4 miljoen beloop.
Daniels vertel dat hy 'n emosionele oomblik beleef het toe hy verlede week die terapeutiese speelarea in al sy glorie gesien het.
"Mens dink jou mos maar in hoe dit moontlik sal lyk, maar as jy dit eers self sien, is dit iets anders. Ek is tot in my siel baie bly dat ek my doel verwesenlik het en dat al die voorbereiding vir die lang en moeilike staptog deur en deur die moeite werd was. Weereens baie dankie aan die breë gemeenskap en borge wat hierdie humanitêre-projek moontlik gemaak het."
Ortopediese-eenheid
Daniels onderneem om volgende maand vanaf Richardsbaai (KwaZulu-Natal) met vier vriende na Kaapstad te stap.
Dié keer sal die doel wees om geld in te samel vir die bou van die Rooikruis-hospitaal se ortopediese-eenheid. Die span beoog om op 13 Mei weg te spring en moontlik op 17 Junie in Kaapstad te arriveer. Daniels sê dat hy reeds die afgelope tyd voorberei vir hierdie staptog en dat hy topfiks voel.
"Ek voel dat ek baie geleer het tydens my vorige staptog en hierdie keer behoort dit minder veeleisend te wees, alhoewel stap my lewe is en ek dit baie geniet. Omdat ons vyf stappers is, gaan die stappery in skofte verdeel word wat beteken dat elkeen slegs tussen 10 en 20 kms per dag sal stap - a walk in the park," skerts hy.
Die lootjies vir hierdie staptog is reeds beskikbaar en beloop R100 per kaartjie waarna wenners twee halwe lammers kan wen. Om by te dra tot hierdie fantastiese inisiatief, kontak Daniels by 060 523 4786.
Volgens Daniels het Turnberry Boutique in Oudtshoorn reeds aangedui dat hulle akkommodasie vir die stappers sal verskaf.
Foto's: verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’