OUDTSHOORN NUUS - Die burgersentrum was verlede Saterdag vir bykans ses ure die toneel van 'n mini-KKNK.
Sewe uittreksels uit toneelstukke-in-wording is tot groot vermaak en meelewing van die gehoor op die verhoog gesien.
Die gedeeltes was voorleggings van sewe aspirant-dramaturge se werk en was die kulminasie van Teksmark-Oudtshoorn wat reeds in April met werksessies vir voornemende dramaturge afgeskop het.
Teksmark is 'n KKNK-inisiatief wat jaarliks nuwe toneelstukke vir die verhoog identifiseer en ontwikkel en vanjaar was die heel eerste keer dat 'n gedeelte daarvan in Oudtshoorn en die omgewing gefokus het.
Teksmark-Oudtshoorn het in April begin met werksessies wat deur die bekroonde dramaturg, Neil Coppen en aktrise, Ilse Oppelt, aangebied is.
Fotogalery: Teksmark-Oudtshoorn 'n mini KKNK
Bykans 20 plaaslike skrywers het die werksessies bygewoon en Saterdag is sewe van hulle se tekste aan die gehoor en beoordelaars voorgelê met die hoop om dalk verder vir die verhoog ontwikkel te word.
Uittreksels uit die tekste van plaaslike skrywers, Ludwig Siwe, Theo Witbooi, Jopie Coetzee (van Mosselbaai), Tiffany Saterdaght, Hannes Visser, Veruschka Cobus en Leach van der Westhuizen is gekies vir voorlegging. Studente wat met nagraadse dramastudies aan die Universiteit van Stellenbosch besig is, het die sewe skrywers en akteurs Vrydag en Saterdagoggend bygestaan met voorstelle en leiding.
Behalwe dat die geleentheid aan plaaslike skrywers 'n platform gegee het om hulle skryftalent bekend te stel, was dit ook 'n uitstekende platform vir plaaslike akteurs om hulle liefde vir die verhoog uit te leef.
Een van die akteurs het tydens 'n bespreking gesê hy het nooit gedink dat hy voor 'n lewendige gehoor op 'n verhoog sou kon optree nie. Die deelnemers se ouderdomme het gewissel vanaf hoërskool-ouderdom tot in die sewentigs.
Die voorleggings se temas was so wyd soos die talent van die skrywers en vertolkers en het gewissel van die kwessies waarmee skoolleerders gekonfronteer word, 'n onwelkome erflating, lewende dooies tot die verhaal van die Bybelse verraaier Judas Iskariot, se moeder se wroeging met haar seun se selfdood.
Anders as met normale stukke op die verhoog het die gehoor na afloop van elke voorlegging die geleentheid gehad om insette te lewer en om vrae te vra. Uit hierdie sessies was dit duidelik dat daar groot waardering onder inwoners is vir die platforms wat aan skeppende kunstenaars gegee word.
Die hoogtepunt van die aand was 'n uittreksel uit die toneelstuk, Die halwe huis, wat deur die Oudtshoorniet Ricardo Arendse geskryf is. Nog 'n boorling van Oudtshoorn, die bekende akteur Marlo Minnaar, het geskitter in sy vertolking van die karakter Bumper Jansen wat probeer vrede maak met sy herkoms en sy omstandighede. Die regie is deur Lee-ann van Rooi waargeneem.
Die halwe huis, was verlede jaar as deel van die Teksmark-inisiatief voorgelê en sou vanjaar by die KKNK op die verhoog gewees het. Dit sal nou deel van volgende jaar se fees wees.
Daar bestaan 'n moontlikheid dat van die voorleggings wat Saterdag gelewer is, verder ontwikkel kan word vir voorlegging aan Teksmark 2021 wat oop is vir landwye inskrywings.
Ilse Oppelt, Marlo Minnaar, Lee-ann van Rooi en Ricardo Arendse. Foto's: Hans van der Veen
'n Toneel uit 'The last dance of the first nation', deur Veruschka Cobus.
Hugo Theart en Ilse Oppelt gesels met Ludwig Siwa. Hy het Toenzella (Lopende dooies) geskryf en ook die hoofrol vertolk.
Cornelle Carstens in 'n toneel uit Jopie Coetzee se Die aangeraaktes.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'