OUDTSHOORN NUUS - Brian Daniels is 'n plaaslike polisiebeampte en kranige stapper.
Hy gaan op Woensdag 14 September om 07:00 'n staptog vanaf die Oudtshoorn-burgersentrum tot by die Rooikruis-kinderhospitaal aflê.
Hy beplan om teen 25 September in die Kaap te arriveer.
Doel van die staptog
Die doel van die staptog is om geld vir die Rooikruis-kinderhospitaal se terapeutiese speelarea in te samel. Daniels het voorheen as vrywilliger by die hospitaal gewerk en opgemerk dat die hospitaal 'n behoefte aan finansiering in verskeie areas het.
"Ek het die hospitaal gevra om vir my te sê waar hulle geld nodig het, hulle het drie voorstelle aan my gemaak - ek het die speelarea gekies."
Beplande roete
Daniels wil sowat 50 km per dag stap. Die roete wat hy beplan, sluit die gewilde R62 roete, Worcester en Paarl in. Sy daaglikse ervaringe gaan hy op die Facebook-blad, Karoo to Coast for Children, deel.
Gelukstrekking
Daniels nooi almal uit om hom in die straat te stop om 'n kaartjie van R100 te koop.
"Ek gaan op elke dorp en selfs langs die pad kaartjies verkoop."
'n Gelukstrekking word op 25 September, die dag wat hy by die Rooikruis-kinderhospitaal eindig, gehou en sy groot droom is om dan R50 000 aan die Rooikruis-kinderhospitaal te oorhandig.
Kaartjieverkoping
Daniels en sy span sal op 3 September by die Pick n Pay-sentrum wees om kaartjies vir die fondsinsameling te verkoop.
Daniels vertel dat hy oral op sy roete verblyf het, maar hoop om weldoeners te kry wat vir hom in Worcester, Paarl en Ladismith verblyf vir die aand sal aanbied.
Indien die publiek 'n kaartjie wil koop of met skenkings wil help, kan Daniels by 060 523 4786 gekontak word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'