LADISMITH NUUS - Moyhdine Pangarker, die man wat teregstaan op die moord op Tazne van Wyk, die 9-jarige meisie wie se liggaam verlede week buite Worcester gevind is nadat sy uit Kaapstad vermis geraak het, het sy seun, wat hy by 'n vrou op Ladismith gehad het ook vermoor.
Klein Moyhdine Pietersen was twee jaar oud toe sy pa hom in 2001 so wreed aangerand het dat hy later aan sy beserings beswyk het.
Rosetta Pietersen van Ladismith, het die week aan die Oudtshoorn Courant vertel dat Moyhdine sy seun ontvoer het en na Kaapstad geneem het. Die kind was nie wettig in sy sorg nie.
"Die hele ding met Tazne het my wonde weer rou gemaak. Ek het weer daardie nagmerries van destyds gekry toe ek en Moyhdine begin uitgaan het. Ek het Moyhdine in 1997 by die tavern ontmoet. Ons het 'n verhouding gehad en ons seun, Moyhdine is in 1998 gebore. Aanvanklik het dit goed gegaan tot hy sy ware kleure begin wys het."
Volgens haar het Moyhdine by Nissenville Taverne gewerk waarheen sy een aand gegaan het.
"Iemand het my daarheen geroep en ek het hom met 'n meisie gevang. Ek is huis toe, maar hy het my gevolg waar hy my en ons seuntjie begin slaan het. Hy het Moyhdine ontvoer toe hy 2 jaar en 6 maande oud was en het by sy suster gaan bly.
"Hy het uiteindelik my kind so gemartel dat hy op 15 Junie 2001 dood is. Ek moes hom gaan uitken in Tygerberg-hospitaal. Ek kon hom uitken aan sy boots, jean en hempie.
"Tydens die polisieondersoek kon hulle agterkom dat Pangarker vir die seuntjie se dood verantwoordelik was. Ek het hom in 2001 in Ladismith begrawe."
Pangarker is in 2003 vir die ontvoering van sy seun in hegtenis geneem. Die saak het in 2004 begin en 2008 is hy aan ontvoering, kindermishandeling en strafbare manslag skuldig bevind.
Pangarker is tot tien jaar gevangenisstraf op al drie aanklagte gevonnis en is in Oktober 2016 op parool vrygelaat. Hy moes vir die duur van sy parool op Ladismith woon, maar is op 6 Februarie 2019 deur korrektiewe dienste as droster verklaar omdat hulle hom nie by die adres wat hy opgegee het kon vind nie.
In hierdie tyd is 'n saak by die polisie aanhangig gemaak.
Pietersen sê sy voel hartseer saam met Tazné se ma.
"Ek is ook deur daardie hel. My kind se lykie moes ek uit die Kaap bring en hier op Ladismith kom begrawe."
Verwante artikel: Body of missing Tazne van Wyk found outside Worcester
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'