OUDTSHOORN NUUS - Universal Leaf South Africa (ULSA) het verlede Vrydagaand 'n prysuitdeling in Schoemanshoek gehou om erkenning aan sy gekontrakteerde Wes- en Oos-Kaapse lugdroogtabakprodusente te gee.
Jaco Malan het tydens sy spreekbeurt gesê dat vanjaar se produksie ongewoon was omdat dit negatief deur die Covid-19-pandemie beïnvloed was.
"Ten spyte van dié uitdagings, was dit nietemin 'n goeie jaar vir veral die Wes-Kaapse produsente en kon die boere steeds deur alle vlakke van die "lockdown" voortgaan met al hul plaasbedrywighede.
"ULSA het dit ook finansieel moontlik gemaak dat produsente se kontantvloei gesond bly deur voorskotte op die oes te betaal, en ten spyte van reisbeperkings, aan te hou om maandeliks die beskikbare tabak by produsente aan te koop.
"Pyptabak produkvervaardigers het ook alle pogings aangewend om tabak te bly ontvang om ULSA weer in staat te stel om tabak te versend en sodoende stoorspasie te skep vir inkomende tabak vanaf produsente. Al die skakels in die ketting het vlot geloop en bygedra tot 'n suksesvolle seisoen," het hy gesê.
Volgens Malan was daar ook groot kommer onder produsente omdat tabakprodukte vir die grootste deel van die Covid-19-inperkings verbied was.
"Die wettige verskaffers van tabakprodukte en die mark van ULSA se produsente het hierdeur skade gely, en dit sal waarskynlik 'n paar jaar neem om weer na normaal te herstel," het Malan benadruk.
Wenners van die aand is as volg:
- Produsent van die jaar: JPS Trust (Piet Schoeman)
- Kleinboer van die jaar: Fonnie Barnard
- Kategorie 1: JPS Trust
- Kategorie 2: John Schoeman
- Kategorie 3: Chris Botha
- Beste verbetering: Fonnie Barnard
- Beste beplanning: Piet en Andries Fourie
- Beste verbetering in kwaliteit: Chris Botha
- Onbaatsugtige diens: Chris en Susan Botha
Van links is: Jaco Malan (bemarking direkteur ULSA), Henko Schoeman (tabakprodusent van die jaar vir die Wes- en Oos-Kaap), Piet Schoeman (wenner, eienaar produsent) en Gary Taylor (ULA Afrika direkteur). Foto's: Wyndham Ewerts
Wenners van kwota kategorieë vir Wes- en Oos-Kaap is voor, van links: Fonnie Barnard (kleinboer van die jaar) en Jaco Malan (MD ULSA) Agter: Piet Schoeman (kategorie 1), John Schoeman (kategorie 2), Henko Schoeman (kategorie 1), Chris Botha (kategorie 3) en Gary Taylor (ULA Afrika direkteur).
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'