OUDTSHOORN NUUS - Garnett Wicomb (81) is sedert verlede week in Manavgat, Turkye, om aan die 2024 ITF Wêreld Meesters-spankompetisie te gaan deelneem.
Hy sê hoewel hy en sy span hul eerste wedstryde sover verloor het, bly die geleentheid 'n belewenis. Hy is deel van die 75+ SA span.
"Sover gaan dit maar taai. In ons eerste wedstryd Maandag teen Spanje het ons 0 - 3 verloor. Dinsdag was 'n taai wedstryd teen Latvia, maar het met 1 - 2 verloor. Dit bly egter 'n belewenis en maak als die moeite werd."
Wicomb is 'n bekende veteraantennisspeler van Oudtshoorn en vryskutjoernalis vir Oudtshoorn Courant.
Hierdie is die vyfde keer wat hy gekies is om Suid-Afrika in die buiteland te gaan verteenwoordig.
Die toernooi vind vanaf 10 tot 15 Maart plaas.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’