TUINROETE NUUS - Een van Suid-Afrika se taaiste eendag fietsrenne, die Momentum Medical Scheme Attakwas Extreme, sal die naweek vir die eerste keer in twee jaar in sy gebruiklike tydgleuf plaasvind.
Die wedren word deur Biogen aangebied.
Van die land se voorste bergfietsryers sal Saterdag die uitmergelende 121km roete tussen Oudtshoorn en Grootbrakrivier aandurf.
Vanjaar se Attakwas moes vanweë Covid-19-inperkingsregulasies uitgestel word en het toe eers op 21 Augustus, na 'n verslapping van regulasies, plaasgevind.
Dit was egter in baie matiger weerstoestande as gewoonlik en volgende maand sal die ryers weer in die eerste helfde van "The Hell Of The South", soos die fietsren bekend staan, die bloedige hitte van die Klein-Karoo te bowe moet kom.
Wessel Botha het vanjaar se fietsren in vier uur en 46-minute gewen en sal sy titel verdedig. Matt Beers die 2020-wenner, asook huidige SA-maratonkampioen, sal waarskynlik as die gunsteling aantree.
In die vroue-afdeling sal Oudtshoorn se Yolande de Villiers haar titel verdedig. Sy kan egter sterk teenstand van ryers soos Robyn de Groot, Sarah Hill en Samantha Sanders verwag.
'n Verkorte Attakwas-fietsren oor 52km word ook aangebied. Inskrywings vir vanjaar se ren sluit op 3 Januarie, hoewel daar volgens die organiseerders, Dryland Event Management beperkte plekke oor is.
Vir meer inligting kontak Suné Linde by (044) 279 1013 of per e-pos by sune@dryland.co.za.
Die podiumwenners van 2021 sal die naweek weer terugkeer vir die taai Attakwas-wedren. Foto's verskaf
'Ons bring jou die nuuste Tuinroete, Hessequa, Klein Karoo nuus'