DYSSELSDORP NUUS - 'n 18 maande oue baba van Dysselsdorp is Sondag dood na haar boetie van 14 jaar oud na bewering hul huis aan die brand gesteek het.
Geen name kan genoem word nie, omdat die 14-jarige seun tans in die hof verskyn en hy volgens wet nie geïdentifiseer mag word nie.
Volgens die 29-jarige ma van die seun, het sy, die seun, haar 18 maande oue baba wat gesterf het en haar vierjarige dogter saam in die huis gewoon.
Volgens die ma was sy Sondag op pad om krag te gaan koop, maar het sy eers op die sypaadjie sit en rook toe haar seun haar nader en vir die R20 in haar hand vra.
"Ek wou dit nie vir hom gee nie, want ek moes krag koop vir die huis. Hy het dit gegryp en weggeloop. Ek het toe agter hom aangeloop en dit teruggevat. Hy was kwaad en het vir my gesê ek sal sien wat hy gaan maak."
Volgens haar het sy teruggegaan huis toe en sy het later weer geloop om iets by haar buurman oor die pad te kry.
"Iemand het my kom haal en gesê die huis is aan die brand. Ek het vir hulle gesê die baba lê en slaap in die kamer, maar dit was te laat. Alles was onder vlamme. My vierjarige het uit die huis uit gehardloop. Toe ek geloop het, het sy op die bank gesit en speel."
Die ma van die kind het Maandag aan Oudtshoorn Courant gesê dat haar seun 'n dwelmprobleem het.
"As hy nie tik nie is hy die vriendelikste kind. Hy is eintlik baie lief vir sy sussies. Hy het verkeerde vriende."
Volgens 'n man wat ten tyde van die voorval naby die huis was het hy die stryery tussen die ma en seun gesien.
"Ek het gesien dat hy weer terugkom en hy het 'n lighter in sy hand gehad. Niemand het gedink dat hy moontlik die huis aan die brand sal steek nie. Ons het skielik rook geruik en toe ek weer sien toe is die huis onder vlamme. Almal wat naby genoeg was om te help het water aangedra. Toe die ma by die huis kom het sy gesê die baba lê en slaap in die huis, maar ek het geweet dit is te laat. Die vlamme was die ergste in die kamer waarin sy geslaap het. Ons het die polisie gebel en 'n rukkie na die brand het die seun teruggekom huis toe met die lighter en 'n skêr in sy hand. Niemand weet wat hy met die skêr wou maak nie."
Die man sê hy het na die brand geblus was die baba op die bed sien lê.
"Dit is nie iets wat ek sommer sal vergeet nie. Daardie kind het niemand niks gemaak nie en is op 'n wrede manier weggeneem."
Kaptein Joey Strydom, bevelvoerder van die Dysselsdorp-polisie, sê 'n klag van moord word deur die eenheid teen gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe ondersoek.
Die seun woon tans by 'n familielid.
Die besittings van die vrou wat oorgebly het na die brand.
Die 18 maande oue baba wat doodgebrand het. Foto: Patrick Jackson
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'