OUDTSHOORN NUUS - Twee Oudtshoorniete, Maryke Kennard en haar beste vriend van skooldae, Ryno Meyer, maak tans groot opslae in die internasionale wêreld van e-Sport.
Kennard, beter bekend in aanlyn kringe as "Whamen", het in Oudtshoorn grootgeword en woon nou al sowat tien jaar saam met haar man, Aleksandar Krsti, self 'n bekende in die e-Sport-bedryf, in Serwië.
Sy het haar merk gemaak as e-Sport-speler, toernooi-aanbieder, omroeper en geleentheids-organiseerder.
Haar talent en toewyding is beloon toe sy haar Protea-kleure in League of Legends onder Mind Sports South Africa (MSSA) verwerf het en Suid-Afrika by die Internasionale e-Sportfederasie (IeSF) se wêreldkampioenskappe verteenwoordig het.
Alhoewel sy aanvanklik naam as speler gemaak het, het sy haarself intussen gevestig as een van die voorste aanbieders van e-Sport-geleenthede wêreldwyd. Kennard fokus tans veral op Age of Empires IV, waar sy toernooie op AgeofRTS aanbied, en is ook betrokke by internasionale tegnologiereus, SteelSeries.
Meyer woon steeds in Oudtshoorn en het van jongs af belanggestel in rekenaarspeletjies en videoredigering en het gereeld saam met vriende YouTube-inhoud vervaardig.
Kennard het hom genader om haar te help met video-inhoud en die bestuur van e-Sport-geleenthede en hy het die geleentheid met beide hande aangegryp.
Meyer was nog werksaam as grafiese ontwerper en drukoperateur en het ná ure saam met Kennard aan haar toernooie gewerk.
Kennard vertel dat hulle 'n inter-nasionale kontrak met SteelSeries gekry het.
"Dié ooreenkoms het daartoe gelei dat ons die werk voltyds kon doen, en vandag werk ons saam aan projekte regoor Europa. Ryno doen die redigering van YouTube-video's, hanteer die kommunikasie tussen spelers en doen ook die grafiese ontwerp vir internasionale handelsmerke en die opstel van reëlboeke."
Kennard sê hulle is tans besig om Masters of Steel aan te bied, 'n vlagskiptoernooi van SteelSeries wat as die grootste Age of Empires IV-geleentheid in Europa vanjaar beskryf word.
"Dit vind plaas in Denemarke, met topspelers van regoor die wêreld wat meeding."
Kennard en Meyer hoop dat hul storie jongmense, veral uit kleiner dorpe, sal inspireer om hul drome ernstig op te neem en dat sukses nie beperk is tot groot stede of tradisionele beroepe nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’