OUDTSHOORN NUUS - Die Suid-Kaapse Genealogiegroep het op 17 Junie die CP Nel-museum besoek.
Deborah Herman en haar kleinseun, Daniel Wilck, het hul kennis en passie vir Oudtshoorn se ryk Joodse erfenis met besoekers tydens 'n aanbieding in die museumsinagoge gedeel.
Hilda Boshoff het 'n boeiende aanbieding oor die verhaal van die Poolse vlugtelinge en hul verbintenis met Oudtshoorn gedeel.
Volgens Christo Smit, voorsitter van die Vriende van die CP Nel-museum het die sprekers se bereidwilligheid om hul tyd, kennis en entoesiasme te deel, 'n waardevolle bydrae tot die dag se verrigtinge gelewer en die ervaring vir almal wat dit bygewoon het, verryk.
Smit het Henry Hill en die lede van die Suid-Kaapse Genealogiegroep bedank vir hul besoek aan die CP Nel-museum.
"Dit was 'n voorreg om julle te verwelkom, en ons vertrou dat julle die besoek net soveel geniet het as wat ons dit geniet het om julle te ontvang," het Smit gesê.
Poolse geskiedenis in 'n neutedop
In 1943 het die Londense regering, met toestemming van generaal Jan Smuts, 500 Poolse kinders na Suid-Afrika gestuur.
Nadat hulle as oorloggevangenes in die suidelike Sowjet Republieke aangehou is, is hulle per SS Dunera na Suid-Afrika en het op 10 April 1943 in Port Elizabeth aangekom.
Hulle is later na Oudtshoorn in die Wes-Kaap oorgeplaas. Daar is 'n kamp gevestig om vir hulle tydelike verblyf, sorg en opvoeding te bied.
Die kamp het gou 'n lewendige gemeen-skap geword, bekend as 'Klein Pole', waar kinders, versorgers en personeel 'n ondersteunende omgewing geskep het.
Heelwat van die Poolse gemeenskapslede in Suid-Afrika kan hul afkoms naspeur na hierdie kinders, wat later bygedra het tot die land se ontwikkeling. Die kultuurerfenis van die kinders leef voort: sommige het 'n blywende band met hul kultuur geskep, soos Stefan Adamski, wat 'n kopie van die Swart Madonna-ikoon vir die plaaslike katedraal geskilder het.
Beide die CP Nel-museum en die plaaslike katedraal het permanente uitstallings oor hierdie geskiedenis. Twee jaarlikse byeenkomste van die 'Oudtshoornians', soos die kinders soms genoem word, help steeds om hul gedeelde verlede te onthou en die gemeenskap te verbind.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’