OUDTSHOORN NUUS - Die o.17 Suid-Kaap-gholfspan het die afgelope naweek korte mette van Boland gemaak en hulle in Riversdal met 23 punte teenoor sewe geklop.
Oudtshoorn se eie jong gholfsensasie, Sergio Arries, het ook deel uitgemaak van die span met die res van die span wat van George en Mosselbaai afkomstig was.
Arries is op die ouderdom van 17 alreeds 'n bekende naam in plaaslike gholfkringe en het verlede maand gholftoerusting ter waarde van R27 000 van die Oudtshoorn-munisipaliteit ontvang.
Die plaaslike liefdadigheidsorganisasie, Sport Buddy Charity, het ook verlede jaar 'n kontantskenking van R2 000 aan Arries gemaak om hom by te staan met sy gholf-onkostes.
Die Suid-Kaap-gholfspan sal in April teen WP en Boland in 'n driehoekige reeks in Robertson meeding.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'