TUINROETE DISTRIK NUUS - 'n Pa is erg bekommerd dat sy dogter tans Covid-19-regulasies breek, omdat sy geen ander keuse het nie. Russell Meyer van Rosedale in George sê hy werk nie gedurende die inperking nie, net sy vrou mag werk, en dit maak dit baie moeilik.
"My kind is 'n tweedejaarstudent by Unisa en het internet nodig om haar 21 take gedurende die tyd klaar te maak."
Vir Meyer is dit 'n geval van trots en tweedens sy bekommernis dat sy dogter iets kan oorkom of erger, die virus huis toe kan bring. Sy dogter se studies is belangrik en hy het van sy laaste geld gebruik om data te koop.
Johneley Meyer sê: "Ons het klas by Suid-Kaap Kollege. Ons is 'n groep van 28 studente in ons tweede jaar, maar daar is nog derdejaars en eerstejaars wat ook studeer."
Sy sê hulle het altyd gebruik gemaak van die kollege se internetkamer, Unisa se kantoor asook die biblioteek. "Maar sedert die inperking is alles toe. Waar ek bly is nie sulke fasiliteite nie, so die afgelope tyd was ek al na drie verskillende huise vir Wi-Fi."
Die Meyers wil weet hoekom die universiteit of departement nie 'n plan het vir sulke studente nie.
Daar is navraag gedoen by Suid-Kaap Kollege, George-munisipaliteit, die department van hoër onderwys en opleiding asook die department van basiese onderwys en daar is ook uitgereik na studenteleiers van die kollege.
Athana Scholtz van die munisipaliteit sê geen van die fasiliteite wat voorheen studente sou akkommodeer met internet, is tans oop nie omdat dit nie essensiële dienste is nie.
"Biblioteke was reeds voor grendeltyd gesluit as gevolg van te veel mense op een slag, veral by die kleiner takke."
Scholtz sê verder die personeel wat voorheen betrokke was by die Youth Café, is nou betrokke by Covid-19-projekte.
Zintle Manjani, woordvoerder van die studenteraad by Suid-Kaap Kollege, sê daar is 'n opname gemaak om uit te vind hoeveel studente die probleem het, maar daar het sover niks van gekom nie.
Sy sê daar is WhatsApp-groepe met lektore sodat studente kan byhou met modules, maar sover geen amptelike antwoord oor hoe om weer die take by die kollege te kry nie.
Manjani sê die departement van hoër onderwys en opleiding het 'n inligtingstuk uitgestuur waar studente aanlyn leermateriaal kan kry, maar waar en hoe is nie bespreek nie. Volgens Manjani was die voorsitter van die studenteraad besig om met die kollege te onderhandel oor internettoegang of data, maar blykbaar het hy nog geen antwoorde gekry nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'