Update
OUDTSHOORN NUUS - Die studente van Suid-Kaap Kollege se Oudtshoorn-kampus het twee dae na mekaar aan 'n vreedsame protesoptog deelgeneem omdat hulle ongelukkig was oor NSFAS-beursgelde wat nie aan hulle uitbetaal is nie.
Volgens die studente, word die gelde aan die kollege betaal en moet die kollege die studente se sakgeld, wat hul kos, akkommodasie en vervoer dek, aan hulle uitbetaal.
"Ons kan nie verstaan hoekom Suid-Kaap Kollege die middelman vir ons gelde moet wees as ander studente wat ook van NSFAS geld ontvang dit direk by NSFAS kan kry nie."
Volgens die studente begin hulle ook binnekort met eksamens, toetse en prakties in hul onderskeie studievelde en het baie studente steeds nie handboeke nie omdat die kampus glo nie bestel het nie.
"Ons wil graag net ons akkommodasie kan betaal en ons studies klaarmaak dat ons aan ons toekoms kan begin werk."
Na die studente Dinsdag aangedring het om met die hoof van die kollege te praat, maar hulle geweier is, het hulle na die landdroshof op Oudtshoorn gegaan om aan 'n wettige optog deel te neem en ook om 'n aansoek deur die hof te bring dat NSFAS-gelde direk aan hulle betaal word en nie deur die kollege nie.
Die hoof van die Oudtshoorn-kampus, Thabisa le Fleur, het Dinsdag 'n memorandum van die studente ontvang. Volgens die memorandum eis hulle dat hul sakgeld direk aan hulle oorbetaal word en dat hul handboeke aan hulle gegee word.
Volgens die memorandum moet die kollege ook situasies waar leerders beurse ontvang het, maar nie by die kollege op die sisteem is nie uitsorteer en wil hulle graag hul uitslae aanlyn ontvang omdat baie van die leerders vêr woon en dit finansieel moeilik is om na Oudtshoorn terug te keer na eksamens om uitslae te ontvang.
Thabisa le Fleur, hoof van Suid-Kaap Kollege se Oudtshoorn-kampus, (heel links) saam met ander personeel van die kollege.
Elsie Potgieter, hoof van Suid-Kaap Kollege, het die week in 'n verklaring gesê dat die sakgeld 10 keer 'n jaar aan studente uitbetaal word.
Daar is beurse wat nog nie goedgekeur is nie en die eerste uitbetaling se sakgeld sal saam met die tweede paaiement na goedkeuring uitbetaal word.
"Die kollege kry nie die goedgekeurde lys van NSFAS op dieselfde tyd wat studente SMS'e ontvang wat sê hulle is goedgekeur vir 'n NSFAS-beurs nie. Studente moet ook 80% van hul klasse bywoon om die sakgeld te ontvang."
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'