OUDTSHOORN NUUS - Inwoners van die Groter Oudtshoorn wat nie hou by die nuwe waterbeperkings nie sal met R1 000 beboet word.
Die Oudtshoorn munisipaliteit het tydens 'n spesiale raadsvergadering Donderdag op strenger waterbeperkings vir die groter Oudtshoorn besluit terwyl die huidige watertariewe ook moontlik aangepas sal word na ‘n openbare deelnameproses.
Die nuwe waterbeperkings wat van vandag af geld is:
- Geen tuinslange mag onder enige omstandighede gebruik word vir die was van voertuie, natlei van tuine of skoonspuit van areas nie.
- Motors mag met emmers gewas word en tuine mag slegs elke tweede dag tussen 08:00 – 10:00 en 16:00 – 18:00 met emmers natgemaak word. (Motorwasserye en kwekerye is van die beperking uitgesluit)
- Sportvelde, parke en ander oop ruimtes mag nie met water uit die Raubenheimerdam besproei word nie. Gryswater moet gebruik word
- Geen spuitfonteine of “water features” mag aangeskakel word nie.
- Persele met boorgate moet ‘n duidelike kennisgewing oprig om aan te dui dat boorgatwater gebruik word.
- Geen privaat swembaddens mag met munisipale water gevul word nie
Die raad doen ook ‘n ernstige beroep op huishoudings om nie meer as 12 kl per maand te gebruik nie.
Intussen het die vlak van die Raubenheimerdam volgens die munispale woordvoerder, Ntobeko Mangqwengqwe vandeesweek van 30,3% verlede week tot 31,12% gestyg.
Die burgemeester, Colan Sylvester, het tydens die bespreking van die nuwe waterbeperkings dit duidelik gestel dat die raad ongewilde besluite sal moet neem om seker temaak die dorp het water gedurende die komende Desember en Januarie somermaande
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'