OUDTSHOORN NUUS - Donderdagaand, 19 Junie, het die Le Roux-dorpshuis in Oudtshoorn sy deure oopgemaak vir ’n betowerende aand vol geskiedenis, stories en nostalgie. Terwyl die skemer ligte in die lug geskilder het, het gaste saamgetrek vir ’n spesiale geleentheid aangebied deur die Vriende van die CP Nel-museum.
Die gaste is getrakteer op insiggewende verhale deur drie van Oudtshoorn se bekende plaaslike geskiedkundiges: Alta le Roux, Hazel Jonker en Blackie Badenhorst. Die trio het ’n boeiende blik gebied op die geskiedenis van die huis, die Le Roux-familie en hul rol in die dorp se ontwikkeling.
Herman Labuschagne, voorsitter van die museum se raad van trustees, het die aand geopen en later ook die gassprekers bedank vir hul bydraes. Ná afloop van die formele verrigtinge het gaste heerlik saam gekuier en die unieke atmosfeer van die historiese huis geniet.
Die Le Roux-dorpshuis is ’n onderafdeling van die CP Nel-museum en is reeds in 1980 tot nasionale monument verklaar. Dié huis is een van die min oorblywende “volstruispaleise” uit die welvaartstyd van die volstruisboerdery en dien as ’n spogvoorbeeld van dié era se argitektoniese rykdom. Besoekers kan oorspronklike meubels, Art Nouveau-loodglasvensters en ’n indrukwekkende versameling dekor en ornamente bewonder – alles bewaar om die gees van ’n vervloë tydperk vas te vang.
Inwoners en toeriste word aangemoedig om die CP Nel-museum en die Le Roux-dorpshuis te besoek en so hul eie verbintenis met die dorp se ryk geskiedenis te verdiep.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’