Update
BEAUFORT-WES NUUS - 'n Man van Beaufort-Wes wat sy 8-jarige gestremde stiefdogter verskeie kere verkrag het is verlede Donderdag in die Oudtshoorn-streekhof lewenslange gevangenisstraf en nog tien jaar vir intimidasie en aanranding met die doel om ernstig te beseer opgelê.
Die 28-jarige man is daaraan skuldig bevind dat hy die kind in 2014 verskeie kere verkrag het. Hy het dit gedoen wanneer die kind se ma geslaap of getiep het.
Die man se naam is aan die Oudtshoorn Courant bekend, maar om die kind se identiteit te beskerm kan dit nie bekend gemaak word nie.
Sy was 10 jaar oud toe sy in die hof oor die voorvalle getuig het en kry, volgens 'n maatskaplike verslag, steeds nagmerries daaroor. Sy slaap sleg en word ook soms aggressief en het gr. 4, vier keer gedruip.
Die man het die kind ook, nadat hy op 'n keer borgtog toegestaan is, by die skool gaan intimideer en haar ma aangerand.
Die vrou is in Desember 2014 oorlede.
Die staatsaanklaer, adv. Michelle Weyers, het die hof vir lewenslange tronkstraf gevra omdat die man sy vertrouensposisie misbruik het en ook geen berou toon nie. "Hy het geen genade vir die slagoffer gehad nie en het 'n kind se lewe vernietig. Sy moet sit met 'n lewenslange straf.
"Niks sal haar letsels herstel nie en hy het nog die vermetelheid gehad om die kind by die skool te gaan intimideer. Hy verdien lewenslange tronkstraf," het Weyers gesê.
Die man se regsverteenwoordiger, Winston Jansen, het die hof gevra om in ag te neem dat hy reeds vir langer as twee jaar in aanhouding is, nog redelik jonk is en 'n eerste oortreder is. Hy het self ook minderjarige kinders en kan wel nog gerehabiliteer word.
Streeklanddros Daniel Boks het die man se dade met 'n kind as skandelik en walglik beskryf.
"Die howe moet keer dat die gemeenskap nie sake in eie hande neem en daarom vonnisse oplê wat ook andere afskrik. Verkragting van 'n kind is meer gruwelik as enige ander verkragting."
Die man is, behalwe vir die lewenslange vonnis, ook vier jaar vir intimidasie en ses jaar vir aanranding met die doel om ernstig te beseer gevonnis. Dié vonnisse kan samelopend met die lewenslange vonnis uitgedien word.
Voorts is hy onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit en moet sy naam in die nasionale register vir seksuele oortreders opgeneem word het die landdros beslis.
Lees 'n vorige artikel: Man wat kind verkrag kry lewenslank
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'