CALITZDORP NUUS - Kevin Monachini van Calitzdorp onderneem begeleide staptoere in die veld rondom die dorp waartydens hy die inheemse plantegroei en dierelewe aan toeriste bekendstel.
Kevin, die eienaar van die Karooicus inheemse kwekery op die dorp, is 'n opgeleide veldgids met 'n natuur-bewaringsagtergrond. In Januarie vanjaar is die nuwe beestong (gasteria koenii) wat hy in die Swartberg ondek het deur Ernst van Jaarsveld beskryf en internasionaal gepubliseer.
Roetes
Swartkop Staproete
Swartkop is 'n alleenstaande koppie naby die Red Stone Hills wat gekenmerk word deur talle kwartsietkolle met vetplante wat spesifiek daarby aangepas is. Die plantegroei op die roete verskil van die ander roetes, en sluit Ghaap, Wol-plakkie, Grastjienk en Knolrepuis in. Die roete vertrek vanaf Karooboom-restaurant en duur sowat vier ure om te voltooi. 'n Maksimum van 13 persone mag deelneem.
Rietvlei Staproete
Die roete deur die Rietvlei beskermde gebied suid van Calitzdorp is nuut. Die roete van 14 km begin aan die voet van die Rooiberg. Die area vorm deel van 'n UNESCO Wêrelderfenisgebied en is geklassifiseer as 'n ariede sone-biodiversiteitsgebied. 'n Mate van fiksheid is nodig.
Andrieskraal Ekoreservaat
Die roete begin by Bella du Karoo-padstal langs die R62 tussen Calitzdorp en Oudtshoorn. 'n Groot verskeidenheid vygies, interressante sukkulente en bolplante kom in die omgewing voor. Verversings en 'n ligte middagete word by Bella du Karoo verskaf. Maksimum 12 persone kan deelneem.
Groenfontein Watervoorroete
Die roete strek langs 'n watersloot in die skilderagtige Groenfonteinvallei en fokus op die geskiedenis en medisinale plante wat hier voorkom.
Middagete kan by die Ou Poskantoor Gallery en restaurant geniet word, of hou piekniek naby 'n rotspoel. Daar is verskillende roetes oor 'n afstand van 2 km tot 5 km.
Vir meer inligting oor kostes verbonde en wanneer die toere gehou word skakel Kevin Monachini by 071 600 0109 of stuur 'n e-pos na karooicus@gmail.com.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'