Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Min mense weet dalk dat elke gebou weerskante van Hoogstraat tussen Kerkstraat en St. Saviourstraat 'n geskiedkundige gebou is.
En, van vandag af is dié geskiedkundige blok met sy 17 geboue 'n kort staproete, die Oudtshoorn Heritage Walk/Erfenisroete, met die geskiedenis van elke gebou.
Die Oudtshoorn Heritage Walk is die inisiatief van sakeman Johan Breunissen om mense bewus te maak van die dorp se geskiedenis en ook om iets nuuts vir inwoners en besoekers te bied.
Hazel Jonker en Hilda Boshoff, albei bekendes in die bewaring van die dorp se erfenis, het elke gebou se inligting nagevors. Die inligting is op metaalplate gedruk en aan die dromme vasgeheg.
Inwoners en besoekers kan nou rustig aan die een punt by die NG Moederkerk begin, afstap tot by die oudste gebou van die 17 op die hoek van Hoog- en St. Saviourstraat en dan weer aan die oorkant van die straat terugstap.
Kyk 'n video hieronder:
Johan Breunissen by een die dromme wat die geskiedenis van die Le Roux-dorpshuis uitbeeld. Foto: Hannes Visser
Die roete is gisteraand aan 'n klein groepie genooides bekendgestel. 'n Groter openingseremonie was beplan, maar moes as gevolg van Covid-19-regulasies aangepas word. Die roete is gister ook deur 'n groep Wolbommers as deel van die reWOLusie-projek in kleurvolle brei- en hekelwerk getooi.
Die reWOLlusie gaan voort ten spyte daarvan dat die KKNK afgelas is en hierdie naweek gaan honderde stukke brei- en hekelwerk op spesifieke plekke in die dorp aangebring word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'