OUDTSHOORN NUUS - Johannes Saayman, 'n boer van die Calitzdorp-distrik, het weer op 8 Desember in die Oudtshoorn-streekhof verskyn na hy verlede jaar van poging tot moord op 'n vrou aangekla is.
Die staat het versoek dat die saak tot 10 Februarie 2023 uitgestel word omdat 'n sielkundige verslag van die beskuldigde benodig word om met die verhoor voort te gaan.
Oudtshoorn Courant het verlede jaar November berig dat hy na bewering op 26 Junie 2021 dié vrou op die sementpad aangerand het en haar, getrap, gewurg en met die vuis geslaan het. Volgens ao. Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, is die vrou aan Saayman bekend en het sy verskeie beserings opgedoen waarna sy vir drie weke gehospitaliseer is. Landdros Vaughn Shone het verlede jaar borgtog van R5 000 toegestaan omdat Saayman nie 'n vlugrisiko is nie en hy alle borgtogvoorwaardes sal nakom. Volgens die borgtogvoorwaardes mag Saayman nie met die klaer kontak maak nie, wegbly van haar woonadres en nie by verdere misdaad betrokke raak nie.
Saayman word deur Christo van der Bergh, van Coetzee en van der Bergh Prokureurs, verteenwoordig.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'