OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen ‘n boer van ’n plaas in die Rooiheuwel-omgewing buite Oudtshoorn wat teregstaan op drie aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer, is in die Oudtshoorn-streekhof vir die getuienis van die beskuldigde uitgestel.
George Schneigansz (48) word daarvan aangekla dat hy op 15 November 2021 op drie tieners, twee van 12 en een van 13 jaar oud, met ‘n paint ball-geweer geskiet het, wat glo in ‘n dam op sy plaas geswem het.
Schneigansz pleit onskuldig en sal volgens sy regsverteenwoordiger, Lourens Swanepoel, getuig dat hy nie na die kinders geskiet het nie, maar hulle net wou skrikmaak.
Volgens dr. Wessel Bouwer van die Oudtshoorn-hospitaal was die beserings wat die kinders opgedoen het nie lewensgevaarlik nie. Hy het namens die dokter wat een van die kinders behandel het en nie meer by die Oudtshoorn-hospitaal werk nie getuig.
Hy het nie die moontlikheid uitgesluit dat die beserings opgedoen is toe die kind oor ‘n draadheining gespring het nie.
Die saak word deur streeklanddros Daniel Boks aangehoor en Nadia Arnolds is die aanklaer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’