OUDTSHOORN NUUS - Bekende klipkunstenaar en skrywer, Joost Pyck, het Maandag 7 Oktober sy nuwe prosa-bundel, Sprokkel 2 by Beans Cafe in Oudtshoorn bekendgestel.
Sprokkel 1 het drie jaar gelede op die rakke verskyn.
Die nuwe prosabundel, oftewel kortverhale is in Afrikaans geskryf. Wat die boek egter uniek maak is die gebruik van Vlaamse woorde deur die loop van die verhale. Sy stories handel oor die dinge wat hy self beleef.
In gesprek met Oudtshoorn Courant verduidelik hy dat hy uit verveeldheid in die aande begin prosastukke skryf het. Hy noem sy skrywes sprokkels omdat dit kort skryfstukke is. Dit beteken letterlik klein stukkies wat bymekaar gesit is.
"My skryfstyl is Afrikaans met doelbewus hier en daar 'n gepaste Vlaamse woord. Daarom heet my manier van skryf 'Sprokkel Afrikaans'.
Hoekom hy in Afrikaans en nie Nederlands skryf nie, antwoord hy ernstig: "Wel, my huistaal is nou Afrikaans en as Vlaming is ek ook baie taalbewus. En omdat Afrikaans onder druk is, is dit my bydrae om die taal te ondersteun."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’