OUDTSHOORN NUUS - Die spreiligte by die Bridgton-sportterrein (die Plate) is vandeesweek suksesvol geïnstalleer teen 'n koste van 'n rapsie meer as R1,4 miljoen.
Dié projek, wat deur die Oudtshoorn-munisipaliteit gedryf en gefinansier word, is daarop gemik om die sportervaring vir die gemeenskap te verbeter.
Volgens die waarnemende superintendent van sport en rekreasie, Phillip Goliath, het die installasie van die nuwe spreiligte geringe vertragings ondervind as gevolg van slegte weer.
"Ons is egter verheug om te rapporteer dat al 40 vloedligte nou op die A- en B-velde geïnstalleer is. Met die installasie-fases afgehandel, is die ligte reeds in werking, wat oorgenoeg beligting bied vir nagtelike geleenthede en verlengde speelure. Ons is opgewonde om hierdie merkwaardige verbetering in ons spreiligte hierdie week aan die publiek bekend te stel, wat eindelose geleenthede bied vir sportentoesiaste sowel as toeskouers," het Goliath gesê.
Goliath het ook 'n versoek aan die gemeenskap gerig om eienaarskap te neem van Bridgton-sportterrein se fasiliteite.
"Die rede hoekom die spreiligte in die eerste plek herstel moes word is as gevolg van diewe wat die ondergrondse kabels gesteel het. Sedert Covid-19 moes die gemeenskap daaronder lei en daar is ook sportspanne wat weens 'n te kort aan ordentlike beligting die onderspit moes delf. Kabeldiefstal is 'n euwel in die samelewing en die gemeenskap moet hierop bedag wees en die owerhede onmiddellik in kennis stel sodat die diewe aan die pen kan ry."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’