OUDTSHOORN NUUS - 'n Gekoördineerde Spaza Shop Blitz-operasie, in samewerking met die Tuinroete-distriksmunisipaliteit en ander belanghebbendes, is Donderdag 13 Junie in Bridgton uitgevoer.
Luidens 'n verklaring wat deur die distriksmunisipaliteit uitgereik is, was die munisipaliteit se omgewingsgesondheidspraktisyns, die polisie en Oudtshoorn se wetstoepassers, sowel as die brandweer, deel van die operasie.
Een van die Spaza-winkels waar inspeksie gehou is. Foto verskaf
Die doel van die operasie was om spazawinkels te inspekteer en seker te maak hulle voldoen aan die wetgewende vereistes soos 'n geldige sertifikaat van aanvaarbaarheid in ooreenstemming met Regulasie 638, afgekondig kragtens die Wet op Voedsel, Skoonheidsmiddels en Ontsmettingsmiddels, 1972 (Wet 54 van 1972) en om te verseker dat dit op 'n opsigtelike plek vertoon word vir die publiek om te sien.
Hulle moet ook geldige besigheidslisensies hê. Die span het ook voedseletikettering geïnspekteer.
"Altesaam vyf winkels is ondersoek. Na afloop van die inspeksies is verslae aan elke onderneming uitgereik en gebiede uitgelig wat verbeter moet word om aan die standaarde te voldoen."
Die publiek word aangemoedig om enige klagtes wat verband hou met hierdie gesondheidsvereistes by die Tuinroete-distriksmunisipaliteit se gesondheidsdienstekantoor te Regentstraat 15, Oudtshoorn aan te meld, of die Oudtshoorn-kantoor by 044 272 2241 te kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’