OUDTSHOORN NUUS - 'n Splinternuwe sonkragprojek is verlede week by Oudtshoorn Spar onthul.
Dit is die eerste van sy soort in Oudtshoorn.
Volgens Kyle Bohnsack, besturende direkteur van Blockpower, wat aan die hoof van die projek staan, vergemaklik dit die lewens van besigheidseienaars geweldig baie en is dit baie goedkoper.
"Die sisteem word met sonpanele, wat op Spar se dak geïnstalleer is, en batterye gedryf.
Dit maak dit moontlik om besighede se afhanklikheid van Eskom-krag met 60% te beperk. Die sonpanele is soos die wat jy by die huis gebruik en die batterye is soos die wat jy in 'n voertuig gebruik. Sou die krag afslaan, soos deesdae met beurtkrag, neem dit net 'n millisekonde vir die stelsel om van Eskom-krag af oor te slaan. Mens kom die nie eens agter as jy in die winkel staan nie."
Blockpower het die projek in samewerking met Sonbroers en Solarise Africa gedoen.
Volgens Bohnsack bespaar die besigheid op die einde van die dag meer as wat hulle betaal het om die sisteem te installeer.
Die kombinasie van die sonpanele en batterye is wat van die sisteem 'n wenner maak.
Een van die installeerders by die 20 batterye wat geïnstalleer is. Foto's: Liezl van Niekerk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'