OUDTSHOORN NUUS - 'n Oudleerder van Hoërskool Oudtshoorn, Zariah Ellman (19), het die afgelope naweek 250 kinders en hul ouers in Bongolethu met 'n Paasete bederf.
Volgens haar het die samewerking uit die gemeenskap al haar verwagtinge oortref.
"My doel was om net 100 kinders kos te gee, maar te danke aan almal se samewerking en spanwerk kon ons daarin slaag om baie meer mense te bederf. Ek het net besef as gevolg van die Covid-19-pandemie is daar baie mense wat nie bevoorreg genoeg gaan wees om iets lekker vir die naweek te maak nie, en dis waarom ek op die projek besluit het.
"Oudtshoorn is ook my tuisdorp, so hoekom sal ek dit nie hier doen nie? Ons het ook bewusmaking oor Covid-19 gedoen, vir die mense pamflette en handreinigers uitgedeel en seker gemaak dat alle protokolle gevolg word toe ons die kos uitgedeel het."
Ellman, 'n tweede jaar BA regte student aan die Universiteit van Potchefstroom, sê die projek was ook deel van 'n universiteitsprojek.
"Dit was regtig 'n groot voorreg om saam met die Oudtshoorniete te werk. Dit is die eerste keer wat ek self so 'n groot projek aangepak het, alhoewel ek al voorheen by sulke projekte betrokke was. Ek wil veral vir Rodney Gelant, Susan Spires, Theresa Wolmarans, Johnathan Jantjies en die CP Nel-museum bedank vir hul bydrae om van die projek 'n sukses te maak."
Zariah Ellman het ook die kinders met 'n Paasete bederf.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'