LADISMITH SPORT NUUS - "Ouers, julle hoef nie meer bekommerd te wees oor enige bydrae wat u kind tot die sport maak nie."
"Namens die bestuur kan ek u verseker dat die fondse wat hierdie klub, FC Young Blood, in die toekoms gaan insamel, oordeelkundig aangewend sal word."
Met hierdie woorde het Young Blood se sokkerafrigter, Moos Fortuin, sy klub se nuwe era ingelui tydens die oorhandiging van die klub se splinternuwe truie.
Die sokkerklub het Saterdag die span van FC Stonebrokers met ses doele teenoor nul verslaan. Die klub is ook deur 'n plaaslike motorklub, Jap Metal, ondersteun.
Die voorsitter van Jap Metal, Hennistey Konstabel, het die jong spelers geprys vir hul besluit om aan sport deel te neem: "Sport bring die beste van jou karakter na vore. '
'n Gefokusde sportman weet waar sy belange lê en die voordele is dat dit ook 'n gesonde liggaam en verstand opbou," het Konstabel onder groot applous gesê.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'