OUDTSHOORN NUUS - Leerders van Bridgton Senior Sekondêr (BSS) is Woensdag tydens die onthulling van 'n groot muurskildery aangemoedig om Afrikaans te eien.
Muurkuns is 'n projek van Afrikaans.com, 'n organisasie wat hom beywer om Afrikaans by skole te bevorder en te laat voortleef. BSS is een van die eerste skole in die Suid-Kaap en die 20ste in die Wes-Kaap wat met só 'n muurskildery spog. "Afrikaans is 'n unieke taal," het René Arendse van Afrikaans.com aan die leerders gesê.
Volgens haar is die doel van die projek om aan die gemeenskap te wys dat die skool trots is op Afrikaans.
'n Oudonderwyser van BSS en beskermheer van Afrikaans.com, Danie van Wyk, het die skool aanbeveel vir die muurskildery omdat dit volgens hom 'n funksionele skool is waarop hy baie trots is.
Volgens hom is die oorgrote meerderheid van die Wes-Kaapse inwoners Afrikaanssprekend en behoort daar meer op die taal gefokus te word. "Afrikaans is ons erfenis, ons nalatenskap en daarom moet ons dit eien."
Ook die burgemeester, Colan Sylvester, 'n voormalige hoofseun van die skool, het leerders aangemoedig om die taal te bevorder.
"Dit is lekker om Afrikaans te praat en ek doen alles in my taal."
Die skool se eie rymkletser, Jamian Kennedy, en die alombekende Paul Amas, het in Afrikaans gerymklets en gesing.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'