Die drie voertuie was almal van die Mosselbaai-pad se kant af op pad na Oudtshoorn toe die ongeluk gebeur het. Die twee bestuurskooltrokkies is verbonde aan Drive for Excellence en Uminathi Drivers School.
Volgens 'n woordvoerder van Van den Bergh Vervoer het die twee bestuurskooltrokkies agter mekaar met 'n baie kort volgafstand gery toe hulle deur die trok van Van der Bergh Vervoer verbygesteek is. Volgens 'n beampte op die toneel het die leerlingbestuurder van die agterste trokkie nie Van der Bergh Vervoer se trok gesien nie en wou die voorste trokkie begin verbygaan.
Die leerlingbestuurder het egter geskrik toe hy besef daar is reeds 'n voertuig langs hom en het teruggeswaai en die voorste trokkie getref. Van der Bergh Vervoer se linkervoorwiel het in die slag gebly terwyl die Uminathi-trokkie regs oor die pad gestamp is met Drive for Excellence aan sy agterkant vas.
Volgens 'n beampte op die toneel kon nie die bestuurders of die instrukteurs bewyse van lisensies wys nie. 'n Senior verkeersbeampte het bevestig dat die instrukteur van die trokkie wat die ongeluk veroorsaak het nie oor die nodige instrukteurssertifikaat beskik het nie en 'n boete opgelê is.
Persone verbonde aan die bestuurskole het op die toneel hul misnoeë met die pers se teenwoordigheid te kenne gegee en luidkeels beswaargemaak teen die neem van foto's. Schalk le Roux, uitgewer van Die Hoorn, is harde woorde toegesnou oor die foto's wat hy geneem. Daar is ook handgebare en harde woorde aan die Oudtshoorn Courant gerig.
Hierdie is nie die eerste voorval waar die plaaslike media onder die instrukteurs en lede verbonde aan die bestuurskole deurloop wanneer hulle by 'n ongelukstoneel opdaag nie.
Sover vasgestel kon word, word 'n klag van roekelose en nalatige bestuur ondersoek.

Volgens 'n woordvoerder van Van der Bergh Vervoer beloop die skade aan die trok bykans R30 000.
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'