OUDTSHOORN NUUS - ‘n Eerste volwaardige kuns- en snuffelmark, Karoo Kreativ, word eerskomende Saterdag 12 Augustus, in Oudtshoorn gereël.
Die organiseerders het verlede week toestemming by die munisipaliteit gekry om die mark een keer per maand op die grasperk langs die CP Nel museum aan te bied.
“Dit is ‘n ideale plek aangesien dit in die publieke oog is en by die toersimekantoor en die museum geleë is. Dit is ook naby aan restaurante waar besoekers verversings kan geniet,” sê die organiseerder.
Die munisipaliteit het hulle verbind om wetstoepassers bekikbaar te stel tydens die mark.
Vanaf September sal die mark op die eerste Saterdag van elke maand gereël word en moontlik elke Saterdag gedurende Desember.
Stalletjies is uitsluitlik vir mense wat hul eie produkte verkoop, juis om entrepeneurskap te bevorder.
Besighede, agentskappe en die verkoop van nuwe aangekoopte produkte word nie toegelaat nie.
Aangesien daar verskeie restaurante en koffiewinkels in die onmiddelike omgewing is, word kosstalletjies nie toegelaat nie.
Tuisgebak wat vooraf verpak of gebottel is, is wel toelaatbaar. Daar was hierdie week reeds sowat 16 stalletjiehouers wat aangedui het hulle gaan deelneem.
Vir verdere inligting, of om ‘n stalletjie te bekom, kontak Hannes by 083 467 1522.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'