OUDTSHOORN NUUS - Slagoffers van misdaad en die oortreders moet die geleentheid kry om bymekaar uit te kom en met mekaar daaroor te praat.
So het die adjunk minister van Korrektiewe Dienste, Nkosi Patekile Holomisa, Dinsdag tydens 'n paroolraad/oortreder/slagoffer/dialoog-Imbizo in 'n volgepakte Dysselsdorp United Congregational Kerk gesê.
Die Imbizo is deur die departement korrektiewe dienste (DKD) aangebied.
Volgens Holomisa het elke inwoner van Dysselsdorp en Suid-Afrika 'n rol te speel om 'n beter Suid-Afrika te skep.
"Misdaad kan gestop word maar dan moet gemeenskappe saamstaan om hul dorpe terug te neem en ouers moet ook belangstel in die aktiwiteite van hul kinders," het Holomisa gesê.
Die voorsitter van die paroolraad, Leonard Davids, het in sy aanbieding die doel van die raad verduidelik en watter stappe gevolg word voordat 'n oortreder op parool vrygelaat word.
Volgens hom is daar altesaam 21 streng voorwaardes wat nagekom moet word en dat dit belangrik is vir die slagoffers of familie van slagoffers om paroolraadsittings by te woon om hul insette te lewer.
Donevin le Roux het die slagoffer/oortreder-program van die departement verduidelik.
Hiervolgens is dit belangrik dat oortreders behoorlik ingelig word oor wat die impak van die misdaad wat hulle gepleeg het.
Volgens hom is die program daar gestel om 'n platform te skep waar die oortreder en slagoffer in 'n veilige omgewing met mekaar kan praat.
Die uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn, Colan Sylvester, het gesê Dysselsdorp en Oudtshoorn is die afgelope tyd geskud weens die talle moorde.
"Dit beteken egter nie dat oortreders nie rehabiliteerbaar is nie"
Volgens hom speel die DKD 'n belangrike rol om oortreders na die uitdiening van hul vonnisse weer in hul gemeenskappe terug te kry. "Dit is 'n tweede geleentheid vir die oortreder maar ook 'n geleentheid vir die gemeenskap om arms oop te maak."
Holomisa het vroeër die dag 'n gedenksteen in die Dysselsdorp begraafplaas onthul vir drie seuns van Dysselsdorp, Jewiniun Basson (10), Renwill Gertse (13) en Tinus Bailey (15) wat op 10 Januarie 2000 wreed vermoor is.
Basson se moeder, Louise Rabie, het in 'n hartroerende toespraak vertel watter moeilike tyd sy moes deurmaak na haar enigste kind se wrede dood. Sy het padgegee uit Dysselsdorp maar na 'n tyd weer teruggekeer. Sy het danksy die program van die DKD die geleentheid gekry om haar kind se moordenaar te ontmoet.
"Hy het aan my erken dat dit hy was wat my kind doodgemaak het. Daar het 'n tevredenheid in my hart gekom en ek het hom vergewe en 'n drukkie gegee."
Rabie het die departement korrektiewe dienste namens die drie families bedank vir die ondersteuning wat hulle van die department gekry het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'