OUDTSHOORN NUUS - Vonnisverrigtinge in die saak teen 'n man van Rose Valley wat tereggestaan het op aanklag van moord na die mesdood van sy voormalige meisie se nuwe vriend, is na sy skuldigbevinding aan strafbare manslag tot volgende Maandag, 8 April uitgestel.
Denrick Carelsen (25) het op tweede Kersdag 2017 vir Wilfred Heinrich Davids by een van die sogenaamde blinkhokke in Rose Valley gesteek, maar ontken dat hy hom wou doodmaak.
Hy het getuig dat Davids die betrokke dag die aggressor was toe hy met sy bromponie by die woning van sy voormalige meisie aangekom het.
Davids wou hom met 'n ketting slaan en hy het 'n mes uitgehaal en daarmee na hom gemik.
Hulle het begin stoei en op die grond geval, waarna Davids die noodlottige steekwond opgedoen het.
Volgens hom weet hy nie hoe dit gebeur het dat Davids raakgesteek is nie omdat alles baie vinnig gebeur het.
Hy het ook erken dat hy Davids op sy kop getrap het en dat dit verkeerd was.
Streeklanddros JC Nortje het in sy uitspraak gesê dat die hof nie bo redelike twyfel kon bevind dat die beskuldigde bedoel het om Davids te dood nie.
"Daar was wel verskille in die getuienis. Dit was 'n bewegende toneel en redelik vining so dit kan aanvaar word dat daar verskille sal wees," het die landdros gesê.
Volgens die hof is dit wel so dat die oorledene vorentoe beweeg het en die twee gestoei en baklei het. Nie een van die staatsgetuies het egter getuig dat hulle op die grond rondgerol het nie.
"Die hof het die getuienis in totaliteit oorweeg en bevind dat die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het. Die beskuldigde se optrede was wederregtelik verkeerd, maar die vraag is of hy opsetlik was om dood te veroorsaak.
"Die beskuldigde het die oorledene se dood nalatig en wederregtelik veroorsaak en word aan strafbare manslag skuldig bevind," het die landdros afgesluit.
Corné Pretorius is die aanklaer en Vaughn Shone verskyn namens Carelsen.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'