CALITZDORP NUUS - Die vierde Calitzdorp Art on Track-kunsweek vind vanjaar vanaf 3 tot 11 Augustus plaas. Art on Track is 'n geleentheid waaraan kunstenaars in alle mediums kan deelneem om mee te ding vir R20 000 of om slegs hulle werk uit te stal.
“Die doel van Art on Track is om professionele, maar veral ook amateur-kunstenaars, ‘n geleentheid te gee om deel te neem aan ‘n kompetisie, of net hul werke uit te stal wat dalk nie andersins blootstelling sou gekry het nie,” sê Sandy Chaitowitz, sameroeper van die kunsweek.
Vanjaar se tema is Water. Kunstenaars kan tot twee skilderye in enige medium insluit.
Skilderye moet ongeraam wees met 'n maksimun grootte van A2. Daar is geen beperking op die grootte van beeldhou- en keramiekwerke nie. Geen kunswerke wat voorheen ingeskryf is, mag weer ingeskryf word nie.
Die inskrywingsfooi is R100 per kunswerk. Die prysgeld vir die wen-inskrywing beloop R20 000, terwyl tweede en derde plek eervolle vermelding sal kry.
Daar is vanjaar ‘n afsonderlike kompetisie vir skoolkinders. Die wenner in hierdie kategorie sal ook ‘n spesiale toekenning kry.
Die uitstalling open 17:00 op Vrydag 3 Augustus in die goedereloods by Calitzdorp-stasie. Die uitstalling sal elke dag tussen 10:00 en 16:00 oop wees. Die wenner word 18:30 op Vrydag 11 Augustus aangewys en die werke word dan opgeveil. Die uitstalling eindig om 13:00 Sondag 12 Augustus.
Drie beoordelaars, Diane McLean, bekroonde kunstenaar van De Rust, Anton Bosman, landskap-kunstenaar van Midrand, en Geoff Grundling, voorheen verbonde aan die Universiteit van Kaapstad se Kunsdepartement, sal gedurende die week die werke beoordeel.
Kunswerke moet die Calitzdorp-toerismekantoor voor of op 22 Julie bereik. Die kunswerke moet voorsien wees van die kunstenaar se naam, die medium en titel van die werk, asook die reserweprys, en die kunswerk moet gereed wees om gehang te word. Alle vervoerkoste word deur die kunstenaar gedra.
Kunswerke kan Maandag tot Vrydag afgelewer word of per koerier gestuur word na Calitzdorp Toerismekantoor, Voortrekkerstraat 3, of gepos word na Posbus 190, Calitzdorp, 6660.
Meer besonderhede oor die kompetisie en uitstalling, asook ‘n aanlyn-inskrywingsvorm, is beskikbaar op die webtuiste http://calitzdorp.net
Kontakpersone:
Sandy Chaitowitz, voorsitter van die kunskomitee by sandy.chaitowitz@gmail.com.
Erina Meiring, bestuurder van Calitzdorp Toerisme by 044 213 3775 of tourism@calitzdorp.org.za.
Mike Muuren, algemene navrae by 083 285 4751 of info@calitzdorp.net.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'