OUDTSHOORN NUUS - "Skrap die rasseklassifikasie-kriteria van alle regeringsvorms sowel as die Z83-vorm vir poste in die staat."
So vra PARC (People Against Race Classification) in ‘n skrywe aan President Cyril Ramaphosa, sowel as die ministers van arbeid, Thulas Nxesi, minister van justisie, Ronald Lamola, minister van sport, Nathi Mthethwa en die statistieke generaal van Statistiek SA en Sensus 2021 koördineerder, Risenga Maluleke.
Die stigter van PARC, Glen Snyman, het die skrywe Saterdagoggend na ‘n plakkaatoptog deur Oudtshoorn se middedorp, op die grasperk voor die CP Nel-museum voorgelees.
Snyman, is in September verlede jaar deur die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) daarvan aangekla dat hy sy ras doelbewus op ‘n aansoekvorm verander het.
Hy het in 2017 aansoek gedoen vir ‘n pos as skoolhoof en sy kruisie langs die blokkie "African" getrek. Die departement het hom egter eers drie jaar later aangekla.
Op 23 September verlede jaar het hy kennis ontvang dat 'n tugverhoor op 14 Oktober 2020 gehou sou word nadat hy van bedrog en oneerlikheid aangekla is.
Die verhoor het egter nooit plaasgevind nie omdat die department ‘n dag voor die datum kennis gegee het dat hy die saak terugtrek.
Volgens Snyman, wat PARC sowat tien jaar gelede gestig het, beywer die organisasie hom daarvoor om die regering te dwing om alle blokkies waar aansoekers hul ras moet aandui, verwyder.
"Ons is nie bruin, swart, Indiër of wit nie. Ons is almal Suid-Afrikaners," sê Snyman.
Hy glo dat Suid-Afrikaners hul teenstand teen rasseklassifikasie te kenne kan gee deur die "African"-blokkie te merk wanneer hulle vir ras gevra word.
Hy sê ook in die skrywe aan die president en ministers dat PARC nie met sy protesaksies sal ophou voordat die rasseklassifikasie-opsies totaal verwyder is van alle amptelike dokumente nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'