PRINS ALBERT NUUS - Die munisipaliteit van Prins Albert het vir die tweede agtereenvolgende jaar 'n ongekwalifiseerde oudit ontvang, maar hierdie keer een sonder uitgewysde sake, algemeen bekend as 'n skoon oudit.
Anneleen Vorster, munisipale bestuurder, sê dié oudit is te danke aan 'n spanpoging deur munisipale amptenare en raadslede wat die dorp en sy inwoners se beste belange vooropstel.
Oudits vir munisipaliteite word gewoonlik jaarliks tussen Julie en November gedoen, maar het in die grendeltyd eers in Oktober verlede jaar vir die 2019/2020-boekjaar begin.
"So 'n ongekwalifiseerde oudit sonder uitgewysde sake staan in leketaal as 'n 'skoon oudit' bekend. Die jaar voor dit het ons 'n ongekwalifiseerde oudit mét uitgewysde sake ontvang. Dié uitgewysde sake het te doen gehad met plaaslike inhoud wat nie in ons tenderdokumente weerspieël is nie, 'n interpretasie wat by alle owerhede voorgekom het," sê Vorster.
Volgens haar streef Prins Albert jaar ná jaar na nóg beter finansiële bestuur. "Die sukses van ons owerheid is toe te skryf aan 'n spanpoging. Dis nie een mens of een aksie wat tot 'n skoon administrasie en gesonde bestuur lei nie. Dit is 'n ingesteldheid van alle personeel- en raadslede om die bes moontlike bestuur en dienste aan die gemeenskap te gee."
Dit beteken allermins dat die dorpsbestuur nou op sy louere kan rus sê sy. "Ons is nie perfek nie. Ons maak foute, maar wanneer ons dit doen, is dit belangrik dat ons dit erken, verantwoordelikheid neem en ons bes probeer om dit wat verkeerd is, reg te stel.
"Dis waar ons gemeenskap 'n kritieke rol speel. Ons het 'n klein personeel en min raadslede. Sonder die gemeenskap se aktiewe deelname in ons bestuursaangeleenthede sou ons nie sukses kon behaal nie. Die rol van ons ouditkomiteelede en interne ouditspan kan ook nie genoeg beklemtoon word nie. Hulle beskik oor uitgebreide kennis en ervaring en vervul 'n kritieke oorsigrol."
"Hoewel Prins Albert baie trots is op sy skoon oudit, is dit belangrik om te onthou dat dienslewering altyd eerste gestel moet word. Die groter prestasie sal altyd wees dat ons in die droogtegeteisterde afgelope jaar, met inagneming van die Covid-19-pandemie, daarin geslaag het om water aan ons gemeenskap te bly voorsien. Hierdie prestasie is eintlik groter as 'n skoon oudit."
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'