OUDTSHOORN NUUS - Personeellede van die Oudtshoorn Korrektiewe Sentrum en Gemeenskaps-korreksie-kantoor het in samewerking met die Polisiehoogte-nasorgsentrum skooluitrustings aan leerders van Rooiberg Primêr oorhandig en ook die skoolterrein skoongemaak.
Die uitreik na skole is volgens Donovan le Roux, medehoof van Oudtshoorn Korrektiewe Sentrum die inisiatief van die areakommissaris van die departement korrektiewe dienste (DKD) in die Suid-Kaap, Ndileka Booi, wat dit tien jaar gelede begin het.
Personeellede van korrektiewe sentrums regoor die Suid-Kaap samel dwarsdeur die jaar geld in vir die doel. Die geld vir die skooluitrustings kom volgens Le Roux uit die sakke van personeellede wat deur die jaar bymekaargemaak word.
Volgens Phillip Seroux van die nasorgsentrum het hy as deel van die sentrum se jaarlikse Terug skool toe-projek, Rooiberg Primêr vir vanjaar se uitreik geïdentifiseer.
Die gasspreker by die geleentheid, Morné Pietersen van EDENfm, het in sy toespraak gesê dat die leerders en opvoeders van Rooiberg Primêr, 'n skool vir die gemeenskap van De Hoop en Welbedacht-omgewing, soos Arende moet uitstyg.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'