as oefenroete gebruik is verlede Donderdag bewaarheid.
'n Leerder van De Villiers Primêr wat deel was van 'n span wat op Wesbank se sportterrein krieket gespeel het, is by die sportterrein raakgery terwyl hy en spanlede op die sypaadjie gestap het. Met die aankoms van die Oudtshoorn Courant op die toneel was die 13-jarige Ricardo Olckers reeds in die ambulans nadat hy kopbeserings en skaafplekke opgedoen het. Hy is na die Oudtshoorn-hospitaal geneem waar hy behandel is.
Die bestuurder van die voertuig, wat haar leerlinglisensie verlede Maandag gekry het, sê dat sy uitgeswaai het vir 'n ander motor en toe vir Ricardo op die sypaadjie raakgery het.
Omstanders was onmiddellik warm onder die kraag aangesien daar duidelike verkeerstekens is wat enige leerlingbestuurders verbied om tussen 14:00 en 17:00 by die sportterrein te bestuur. Beide die bestuurder en die dame wat saam met haar was het aangevoer dat hulle nie bewus was van die kennisgewing nie.
Alhoewel daar twee SAPD-lede en 'n verkeersbeampte op die toneel was, en daar aan hulle uitgewys is dat die persoon die straat wederregtelik gebruik het, is daar sover vasgestel kon word geen boete aan haar uitgereik nie. Die verkeershoof het ook nie gereageer op 'n amptelike navraag Maandag waarin gevra is of die persoon 'n boete opgelê is nie.
Die polisie het intussen bevestig dat 'n klag van roekelose en nalatige bestuur ondersoek word.
Laerskool Wesbank is al sedert verlede jaar in 'n stryd gewikkel om te verhoed dat leerlingbestuurders Vredestraat gebruik.
Wesbank se skoolhoof, Alewyn Hanekom, die skool se regsverteenwoordiger, Dirk du Toit en die Oudtshoorn Courant het Vrydagoggend dringend met die verkeershoof, Thembuxolo Tyatya vergader om die aangeleentheid te bespreek.
"Meneer u het voorheen gesê u wil nie bloed op u hande hê nie, wel nou het u," het Hanekom aan Tyatya gesê toe hy foto's van die beseerde Ricardo aan hom wys. Tyatya het onderneem om alle bestuurders wat die roete wederregtelik gebruik te vervolg. Nadat Hanekom aangedui het dat ouers hierdie week die pad gaan versper het Tyatya as alternatief voorgestel dat foto's van registrasienommers van oortreders aan hom gestuur word en hy het die versekering gegee dat hulle beboet sal word.
Intussen het die minister van vervoer, Robin Carlisle, toestemming verleen dat die roete waarop leerlingbestuurders getoets word verander kan word. 'n Nuwe roete wat nie by die skool verbygaan nie is reeds vanaf 1 November in gebruik, maar baie van die bestuurskole en selfs amptenare was hierdie week skynbaar nog nie bewus van die verandering nie.

Die ongelukstoneel.
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
FOTO'S: JO-MARIE DE KOCK