OUDTSHORON NUUS - Word skole wat hard werk en hulle situasies radikaal omkeer deur die departement benadeel?
Dit is die vraag wat die skoolhoof en beheerraad van Laerskool Laurus hulself afvra nadat pleidooie vir addisionele poste oënskynlik op dowe ore val.
Volgens Ronelle Huysamen, skoolhoof van Laerskool Laurus het die personeel, ouers en kinders die afgelope vier jaar 'n skool met 'n da-lende leerdertal van 218 omgekeer tot 'n suksesvolle eko-skool met 371 leerders (gr. 1 tot 7) en 62 voorskoolse kinders.
"Ten spyte van al ons werk en al die suksesse het ons tans slegs nege permanente poste en een administratiewe pos wat deur die departement betaal word. Vir die ander elf personeel wat daarvoor moet sorg dat die leerders kwaliteit onderrig ontvang, moet ons uit eie saak betaal," het sy Woensdag gesê.
Nadat verskeie skrywes aan die minister van onderwys en die onderwyskring geen reaksie uitgelok het nie, het Huysamen besluit om haar tekkies aan te trek en letterlik George toe te stap om 'n memorandum aan die streekdirekteur te oorhandig.
Sy en nege ander stappers wat uit personeel en ouers bestaan, val volgende Sondag 15 Oktober in die pad om die 67 km te voet af te lê.
"Ons onderneem hierdie Tekkies op die teer-projek nie net om mense bewus te maak van die wanbalans tussen leerdergetalle en onder-wysersgetalle in ons skole nie, maar stap ook vir die waardes waarvoor ons skool staan. Die waardes is waarheid, omgee, ouerbetrokkenheid, respek en dissipline."
Die staptog strek oor drie dae. Met die eerste skof stap die groep met die hoofpad langs tot by Holgate waar hulle oornag. Maandagoggend stap hulle tot by Laerskool Herold. By die laerskool sluit die res van Laurus se personeel na skool by die groep aan en dan stap hulle tot by Camherskloof, 'n CapeNature-terrein waar hulle personeelontwikkeling doen en oornag. Die groep van tien stap dan Dinsdagoggend oor die Montagupas tot by die onderwyskantore in Courtenaystraat in George.
Huysamen nooi mense uit om Maandagoggend van die tolhuis af saam te stap George toe. Belangstellendes kan haar op 083 508 9798 skakel om die tyd vas te stel.
"Met hierdie stap wil ons ons dankbaarheid teenoor die departement betuig vir wat hulle reeds vir ons gedoen het, maar die boodskap dat kinders by skole benadeel word deur te min onderwysposte moet nou aan die groot klok gehang word," sê sy.
Sewe van die tien stappers van Laeskool Laurus wat volgende Sondag George toe stap. Van links is Ronelle Huysamen (skoolhoof), Karen van der Merwe (ouer), Susan Bühr (opvoeder), Belinda de Wit (beheerliggaam), Whayne Allen (opvoeder), Bernard Els (rekenaarfasiliteerder) en Danelle Potgieter (opvoeder). Foto verskaf
ARTIKEL; HANNES VISESR, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'