Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Warren Sevierus is verlede Vrydagmiddag by CJ Langenhoven se woning, Arbeidsgenot in Jan van Riebeeckweg, as Oudtshoorn Courant se onbetwiste braaibroodjiemeester aangewys.
Sevierus, wat anders as die twee mededeelnemers slegs 'n enkele broodjie voorberei het, het gesê dat hy homself nie juis as 'n kenner op dié gebied beskou nie en dat hy bloot ingeskryf het om te kyk of sy resep dalk die wenresep kan wees.
FOTOGALERY: Oudtshoorn Courant se braaibroodjiemeester
"In my huishouding is die maak van braaibroodjies nie 'n noodsaak wanneer ons die dag braai nie, maar as die bestanddele die dag daar is, doen ek dit met graagte, want dit is iets waarvan ek nogal hou; plus my vrou en kinders geniet elke keer die broodjies wat ek voorsit.
"Omdat ek hou van kos met oemph oor die algemeen, is my resep eintlik eenvoudig; gewone cheddarkaas, mengsel van knoffel en rooirissie wat rooipeper insluit wat ek dan meng met mayonnaise-sous. Die idee is as ons kuiergaste het en ons geniet 'n drankie, dan blus die sterkerige smaak die keel," skerts hy.
Een van die beoordelaars, Rodney Gelant, het tydens die aanwysing van die wenner gesê dat alhoewel Sevierus se voorlegging nie wêreldklas was nie, sy broodjie se smaak die beoordelaars heeltemal uitgeboul het.
"Daar is definitief iets in jou broodjie wat my laat wonder het en aanhou laat proe het, maar ongelukkig vir ons beoordelaars het jy net een broodjie voorberei. My leuse is altyd simplicity is key, en in hierdie opsig het jy 'n wenbroodjie op die tafel gesit wat nie sy gelyke het nie," het Gelant onder groot applous gesê.
Phillip du Plessis was die naas-wenner en hy vertel dat hy en sy vriende verlede jaar een oggend 'n rugbywedstryd tussen die Springbokke en die All Blacks gekyk het toe hulle besluit het om te braai.
"My resep het spontaan daardie oggend gestalte gekry toe die spek so bietjie aangebrand het tesame met camembert, gouda en cheddarkaas plus 'n bietjie groen pesto wat ek bygesit het. My vrou en seun is absoluut mal oor dit en ek het ook 'n ander braaibroodjieresep wat ek nou en dan gebruik."
Daniell Nel was in derde plek en het gesê dat die maak van braaibroodjies vir haar tradisioneel is en dat sy dit elke Woensdagaand voorberei wanneer hulle braai.
"Gewoonlik maak ek sommer ekstra broodjies vir my verloofde vir die volgende dag vir werk. Elke week pas ek my resep aan, maar vandag het ek die uie gebraai en blatjang bygegooi tot dit karamelliseer en toe het ek een kant van die broodjie roomkaas gesmeer en ander kant smeer ek blatjang. Die tamatieskyfies geur ek lekker met sout en peper tesame met wit cheddar," verduidelik sy.
Sevierus het 'n prys van Buffelsdrift-wildsplaas ontvang, terwyl Du Plessis met 'n Jakkalsvlei -geskenkpak weggestap het. Nel het vir haar derde plek twee sakke koffie van Beans About Coffee gewen.
Daar was selfs tyd om 'n foto met die ontslape Afrikaanse digterlegende, CJ Langenhoven, te neem.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'