OUDTSHOORN NUUS - Sommige vingers van 27 pare gewillige hande was lomp en onhandig en moes hier en daar reggehelp word terwyl ander presies geweet het hoe om 'n spyker netjies in 'n stuk hout te kap.
Dit was die toneel by Huis Triomf toe die 27 seuns geleentheid gekry het om elkeen sy eie houtkrat te maak.
Dalia Wilck en Suné Rupping, wat op die raad van dié kinderhuis sit, het besluit hulle gaan nie bloot vir elke seun 'n boks met geskenkies gee nie, hulle gaan hulle motiveer om self houers te maak.
'n Persoon wat gereeld houtwerk doen het planke wat hy en Boshoff Boumateriale geskenk het, geskaaf en gesaag. Langenhoven Gimnasium het 30 hamers uit een van hulle werkswinkels geleen en Dalia het gesorg vir gom, spykers, skuurpapier en bord vir die bodems.
Met die hulp van Huis Triomf se twee personeellede en die vrywilligers het die seuns begin skuur, plak en timmer en teen middagete was elkeen die trotse eienaar van sy eie houtkrat waarin persoonlike besittings onder hulle beddens gestoor kan word.
ACVV Huis Triomf huisves 30 seuns wat deur die hof daar geplaas is omdat hulle huislike omstandighede onvoldoende is.
Na mediadekking oor dié kinderhuis wat seuns van oor die hele streek heen ontvang, het verskeie mense en instansie hulle reeds verbind om die nood van die organisasie te verlig.
Die voorsitter van die raad, Allie Killian, het hierdie week gesê hulle is dankbaar vir al die hulp wat reeds ontvang is. Die Oudtshoorn Courant en die koerant se eienaars, Group Editors, het hulle daartoe verbind om volgende jaar met die trusteeraad van Huis Triomf saam te werk om op volhoubare wyse ondersteuning van die gemeenskap daar te stel.
Lees 'n verwante artikel: Hande reik uit na Huis Triomf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'