OUDTSHOORN NUUS - Die 17-jarige NJ (Baadjie) Bessinger, is tans in George-hospitaal nadat hy Sondag-aand ernstig in 'n motor-fietsongeluk beseer is.
Oudtshoorn Courant het verneem dat Bessinger op 'n motorfiets was toe die ongeluk plaasgevind het. Dit blyk dat hy uit Hoopstraat, langs Black Swan, in Baron van Reedestraat ingery het waar hy met 'n motor gebots het.
Volgens inligting het Bessinger ernstige kop-beserings opgedoen. Die bestuurder van die motor is ook beseer.
Henley Scholtz, Bessinger se stiefpa, het Maandag gesê dat hy nog in George in die intensiewesorgeenheid is.
"Ons weet nie wat op die toneel gebeur het, of hoe die ongeluk gebeur het nie. Al wat ons weet is dat hy verskriklik seergekry het. Hy het ernstige hoof- en inwendige beserings opgedoen. Hulle monitor hom gereeld, en daar is 'n moontlikheid dat hy oorgeplaas gaan word Kaap toe."
Scholtz sê dat dit veral vir Bessinger se ma, Diana, 'n geweldige skok is.
"Ons vra asseblief om hom en haar in julle gebede te hou."
Teen druktyd was sy toestand onbekend.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’