OUDTSHOORN NUUS - Die Scrosoppi-sorgsentrum in Bridgton moes ook weens die landwye inperking verlede maand hul deure sluit.
Dié sorgsentrum is by die departement maatskaplike ontwikkeling as 'n gedeeltelike sorgfassiliteit geregistreer en voorsien vir die afgelope 15 jaar elke weeksdag kos aan tientalle kinders.
Volgens vader Dennis Ongansie, van die sorgsentrum, het hulle besluit om steeds te probeer om kinders in die Oudtshoorn-omgewing kos te gee en deel drie keer 'n week vetkoek of toebroodjies aan tussen 50 en 70 kinders en volwassenes uit.
Ongansie sê die brood word meestal deur Camp Roadhouse geborg.
"Ons het ook, in samewerking met die Jong Volwassenes van St. Niklaas-kerk begin om nie-bederfbare voedsel in te samel om kospakkies aan behoeftige gesinne te verskaf aangesien ons al hoe meer versoeke om hulp ontvang het.
"Die reaksie vanaf gemeentelede en lede van die breë gemeenskap was baie positief en ons kon die afgelope naweek 60 kospakkies aan baie behoeftige gesinne verskaf. Ons wil graag almal bedank wat bygedra het."
Volgens hom beoog hulle om elke Vrydag, vir die res van die inperkingstyd 'n paar gesinne van basiese kospakkies te voorsien.
Indien enigiemand wil bydra tot hierdie twee voedingsprogramme kan hulle 073 546 7804 of 084 026 9799 skakel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'