OUDTSHOORN NUUS - Die bekende Protea tiener-fietsrysensasie van Langenhoven Gimnasium, Charlissa Schultz, het ook vanjaar haar akademiese staal gewys en is met 'n gemiddelde van 89% slaagsyfer, haar skool se toppresteerder.
Sy spog met A-simbole vir Afrikaans, lewenswetenskappe, lewensoriëntering, wiskunde, rekenaartoepassingstegnologie, Engels en fisiese wetenskappe.
Volgens Schultz beoog sy om B.Sc. in fisioterapie by die Universiteit van Stellenbosch te studeer. Sy sê die rede vir haar besluit om hierdie spesifieke rigting te studeer is om op so 'n manier steeds by sport betrokke te wees.
Benewens die feit dat sy kaptein van die skool se fietsryspan is, was sy ook lid van die skool se matriekraad.
"My gebalanseerde sukses skryf ek toe aan harde werk, uithou en aanhou. Ek glo dat dit wat jy insit, sal jy uitkry. Dit was 'n ongewone jaar vir almal en jy moes die besluit neem of jy van hierdie jaar 'n sukses gaan maak en of jy gaan tou opgooi. Ek het besluit hierdie is my jaar en ek gaan 'n sukses daarvan maak ten spyte van Covid-19. Die grootmenswêreld lê nou oop voor ons. My fondasie wat deur my ouers (Werner en Sonja) gelê is, het my voorberei vir die lewe daarbuite. Sonder die wonderlike ondersteuning van my ouers, familie en onderwysers en my Hemelse Vader sou ek nie sukses behaal. "
Haar ma, Sonja, is dit eens dat sy en haar man as ouers, ongelooflik trots op Charlissa is: "Ons weet sy het baie hard gewerk. Tussendeur het sy boonop met haar sport aangegaan en steeds presteer. Sy verdien haar sukses, hetsy sport of akademies gewys, deur en deur."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'