DYSSELSDORP NUUS - "Dit was ons jare lange droom om eendag weer terug te keer na Bloupunt toe."
So het Anthea Botha in haar toespraak verlede Donderdag by die opening van haar en haar man Andrew se restaurant, Schuinspad, buite Dysselsdorp gesê. Die restaurant is by Bloupunt langs die N12 geleë.
Schuinspad is die eerste restaurant wat in die bestaan van Dysselsdorp geopen is.
Botha, wat in Dysselsdorp woon, het aan die gaste vertel dat haar ouma Hester Bruiners in 1973 gedurende die apartheidsjare noodgedwonge vanaf Bloupunt na Dysselsdorp verskuif is.
"Ek sien nou nog in my geestesoog hoe sy haar openlik verset het teen dié gedwonge verskuiwing. Op daardie stadium was ek 'n jong dame, maar het myself toe reeds beloof dat ek wéér eendag sou terugkeer."
Die Botha-gesin het ook 'n gedenkplaat tydens die verrigtinge onthul ter ere van Bruiners se onverskrokkenheid en die beginsels waarvoor sy gestaan het vir die gemeenskap van Bloupunt.
Botha het ook beklemtoon dat dit dié familie onderneming se hoofdoel is om positiwiteit na Dysselsdorp te bring deur onder meer werk te verskaf aan die jeug van die dorp.
Zoleka Rosemary Capa, adjunkminister van kleinsakeondernemings, het ook die opening bygewoon en gesê dat sy trots is dat landelike entrepreneurs van niks af 'n selfonderhoudende onderneming kan opbou wat kan bydra tot die ekonomie van die land.
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'