OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-sakekamer het verlede Donderdagaand by Karusa-wynlandgoed hul 23ste algemene jaarvergadering gehou wat deur Kunste Onbeperk geborg is - toevallig op die 23ste Februarie 2023.
Die verrigtinge het in die opelug, terwyl die son sak, plaasgevind, en is goed bygewoon met gaste wat die Oudtshoorn se eerste burger, Chris Macpherson, Francois de Goede (ABSA), Lizanè Basson (Kunste Onbeperk) en Koos van Arkel (gasspreker) ingesluit het.
Tydens sy spreukbeurt het Abri Ferreira, voorsitter van die Oudtshoorn-sakekamer gesê dat die sakekamer se ledetal vir 2022 tans 162 is, 21 lede meer as 2021.
"Ek glo solank as wat ons as die sakekamer relevant bly en 'n verskil maak, sal ons ledetal net aanhou groei. As ons relevant wil bly, moet ons kommunikasielyne oop hou, nie net besighede nie, maar ook met plaaslike owerhede. Ek wil die Oudtshoorn-munisipaliteit bedank vir teenwoordigheid by ons netwerkaande en ek glo dat ons in die toekoms kan voortbou op ons verhoudinge tot voordeel van ons dorp en die streek."
Op dieselfde noot het Ferreira ook die munisipaliteit geprys omdat hulle proaktief optree ten opsigte van beurtkrag omdat die infrastruktuur reeds in plek is om solar-elektrisiteit te ontvang.
Ferreira het verder bygevoeg dat behalwe vir die netwerkgeleenthede vir besighede, bied die sakekamer ook nie-winsgewende organisasies die geleentheid om direk met besighede kontak te maak.
"Die fokus van die sakekamer in 2022 was om die ekonomie deur middel van byeenkomste te stimuleer en sodoende die herstel na Covid-19 te versnel. Voorts het ons ook ons volgehoue ondersteuning en betrokkenheid by die KKNK bevestig deur 'n Kanna-toekenning te borg. Ons het ook die SA fietsrykampioenskappe wat onlangs in Oudtshoorn gehou was, geborg.
In samewerking met Boland-familie-wingerde bied die sakekamer ook 'n spys-en-drank funksie by die KKNK aan. Hierdie is 'n wonderlike geleentheid om met die borge bietjie skouers te skuur."
Ferreira het afgesluit met die volgende aanhaling van Mark Twain: "Continuous improvement is better than delayed perfection."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'