OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-sakekamer en Agri Klein-Karoo, wat vir jare in Voortrekkerweg oorkant die Oudtshoorn-munisipaliteit geleë was, het gister, 24 Februarie, na die Acker Maloney-gebou in St. Johnstraat verhuis.
Die twee organisasies het die besluit geneem nadat hulle, en Oudtshoorn-toerisme wat in dieselfde gebou is, reeds in 2019 'n uitsettingsbevel van die CP Nel-museum ontvang het.
Die organisasies huur die gebou by die museum, maar dit is die eiendom van die munisipaliteit.
Die kwessie het die afgelope twee weke wye reaksie uitgelok en ook aanleiding gegee tot verskeie plasings op die Facebook-blad van die CP Nel-museum. Die museum het verlede week nie op navrae oor die kwessie gereageer nie.
Volgens Jaco Vorster, voorsitter van die Oudtshoorn-besigheidskamer het hulle die besluit om te verhuis geneem na samesprekings met die munisipaliteit en die ander organisasies wat die gebou van die museum huur.
"Ons het openhartige gesprekke gehad en die Oudtshoorn-munisipaliteit het op hul beurt aangedui dat hulle weens die Covid-19-regulasies die gebou in elk geval gaan gebruik indien ons wel sou besluit om te trek. Dit het ons besluit veel makliker gemaak met die wete dat ons verhuising vir die 'greater good' is.
"Uit 'n finansiële oogpunt moes ons ook besluit of ons met die voortslepende hofsaak teen die uitsettingsbevel voortgaan, of eerder ons geld bestee om die dorp en die gemeenskap te help. Ons huur by die Acker Maloney-gebou gaan ook presies dieselfde bly as wat ons tans aan die museum betaal."
Die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekantoor bly in die gebou aan omdat dit 'n ideale ligging vir toeriste is. Vorster het beklemtoon dat hul verhuising geensins 'n negatiewe impak op hulle verhouding met die Oudtshoorn-munisipaliteit het nie.
"Inteendeel, ons verhouding is nou sterker as ooit tevore en die munisipaliteit het ook sy hulpbronne beskikbaar gestel om ons met die trek te help."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'