Update
OUDTSHOORN NUUS - Suid-Kaap Saamstaan Party het vandeesweek uitspraak ontvang dat hul hofaansoek om die voormalige geskorste Saamstaan-raadslid, Mlandeli Nyuka, as die party se aangewese Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) -korrespondent te verwyder, deur die verkiesingshof ter syde gestel is.
Die munisipale bestuurder, Walter Hendricks, het tydens Woensdag se raadsvergadering 'n e-pos van die OVK aan die raad voorgelees wat bevestig dat Nyuka sy plek in die raad moet in neem, wat Nuyka tot groot applous van die raad gedoen het.
Nyuka is onlangs sy setel in die munisipale raad kwyt nadat sy lidmaatskap op 6 April vanjaar deur sy party beëindig is. Hy is volgens Saamstaan skuldig bevind in 'n interne tugverhoor weens verskeie aanklagte wat insluit vervalsing van dokumente.
Dit sluit in dat hy glo 'n PR-lys (proporsionelelys) by die OVK in 2021, net na verlede jaar se verkiesing, ingedien het sonder die medewete van die partybestuur.
Hy was ten tyde van die voorval die president van die party en volgens 'n persverklaring van Saamstaan, was Nuyka nooit 'n kandidaat in die verkiesing nie en is hy ook nie deur die party aanbeveel om Saamstaan in die raad te verteenwoordig nie.
Volgens Hans Malgas, regsbeampte van Saamstaan, het die party die verkiesingshof reeds op 14 Mei genader om 'n nuwe korrespondent, Stephzell Willemse, vir die party by die OVK aan te wys.
Die hof het dié aansoek egter op Dinsdag 28 Junie van die hand gewys wat beteken dat Nuyaka ongeag sy skorsing, steeds alleen magtiging het om met die OVK namens Saamstaan te korrespondeer. In die korttermyn beteken dit dat slegs Nuyaka die einste Saamstaan-party wat hom geskors het, se nuwe PR-lys aan die OVK mag voorlê.
Volgens Malgas het Saamstaan alreeds op 'n kandidaat besluit wat Nyuka in die munisipale raad sal vervang.
Volgens die hofbevel in Oudtshoorn Courant se besit is die redes vir die tersydestelling as volg:
Enige verandering in registrasiebesonderhede van 'n nuwe geregistreerde leier van die party moet volgens Bylae 1 binne 30 dae skriftelik aan die hoofverkiesingsbeampte deurgegee word wat Saamstaan versuim het om te doen.
Die OVK het tot op hede ook nog nie 'n skriftelike kennisgewing van enige verandering of 'n wysiging van die Akte van Stigting-regulasie vanaf die nuutverkose geregistreerde leier van die party ontvang soos voorgeskryf deur Regulasie 9 vir die Registrasie van Politieke Partye 2004 nie.
Hans Malgas. Foto: verskaf
Daarenteen bevestig die OVK dat hy wel skriftelike kennisgewing van Nyuka ontvang het wat bevestig dat hy onteenseglik steeds die geregistreerde leier van Saamstaan is.
Saamstaan beweer dat die korrespondent (Nyuka) uit die party geskors is, wat deur hom betwis word, daarom is die geskil oor die samestelling van die leierskap 'n interne party-dispuut.
Volgens die hofstukke het die OVK reeds so vroeg as 26 April die aansoeker in kennis gestel dat die kommissie nie politieke partye se interne geskille hanteer nie en aanbeveel dat die party die Munisipale Strukture Wet 117 van 1998 (die Strukture Wet) ten opsigte van indiening van PR-vakatures en die wysiging van partylyste-roete moet volg, wat nie gedoen is nie.
Wat sê Saamstaan?
Malgas het in 'n persverklaring beklemtoon dat die hof nie beslis het oor Nyuka se verwydering uit die party en sy posisie in die munisipale raad nie en dat dit nog steeds van krag is.
"Die hofsaak het net gehandel oor die aanwysing van 'n amptelike korrespondent aan die OVK; niks minder en niks meer. Sover dit die party aanbetref is Nyuka nie meer lid van die party nie en kan hy homself ook nie aanwys as 'n nuwe proporsionele lid nie omdat hy nie weer op die lys as PR-lid mag verskyn nie."
Malgas sê die korrekte prosedure nou moet wees dat die party die nuwe PR-kandidaat moet aanwys en dat Nyuka die OVK binne hierdie week moet inlig wie dit is.
"Indien daardie prosedure omseil word sal Saamstaan dit definitief teenstaan met 'n dringende hofbevel in die hooggeregshof. Ons partybestuur oorweeg ook op hierdie stadium hulle opsies met die moontlikheid van 'n appèl na die konstitusionele hof om Artikel 9 van die Verkiesings Regulasies ongeldig te laat verklaar omdat dit inperkende gevolge het," het Malgas benadruk.
Stephzell Willemse
Verwante artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'