OUDTSHOORN NUUS - Die vonnisoplegging van 'n vrou van Oudtshoorn wat 'n ma van drie kinders met 'n mes in die nek gesteek het, is Vrydag in die streekhof nog 'n keer uitgestel.
Streeklanddros Retha Pretorius het die proefbeampte oor die kole gehaal omdat sy verslag onvolledig is en dit die vonnisoplegging van die 42-jarige Felicity Botha, bemoeilik.
Botha het tereggestaan op aanklag van poging tot moord, maar is skuldig bevind aan aanranding met die doel om ernstig te beseer en vonnisoplegging is al verskeie kere uitgestel.
Botha het die 36-jarige Elizabeth Naude, met 'n mes in die nek gesteek, en Naude is weens die wond verlam en in 'n rolstoel gekluister.
Die proefbeampte kon nie aan die landdros verduidelik waarom hy nie persoonlik met die biologiese vader van Botha se twee minderjarige kinders en met haar broers en susters kontak gemaak het nie.
Volgens die landdros oorweeg die hof direkte gevangenisstraf en moet seker gemaak word dat reëlings getref word vir die kinders se welsyn indien Botha tronk toe gestuur word.
Die beampte kon ook nie verduidelik waarom hy nie met die beskuldigde se 21-jarige dogter gepraat het om vas te stel of sy na die kinders kan omsien nie.
Hy het ook nie met die kinders van onderskeidelik sewe en 15 jaar oud gepraat het nie.
Die landdros wou ook weet hoe die proefbeampte 'n opgeskorte vonnis kan voorstel wanneer hy nie eens met die slagoffer gepraat het nie.
"Die slagoffer se belange moet ook in ag geneem word. Weet u dat sy 'n parapleeg is, dat sy ook minderjarige kinders het en nie haarself kan was nie?" wou sy van die beampte weet.
Hy het hierop geantwoord dat hy op die beskuldigde gefokus het.
Pretorius het die saak uitgestel vir 'n volledige verslag van die beampte.
"Die hof kan na aanleiding van die verslag nie 'n ingeligte besluit neem nie," het die landdros gesê, en die saak vir 'n volledige verslag tot 16 Mei uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'